NULL
Bible Book: Mark / Markus
Chapter: 1
Verse: 9
Verse (to): 14

Markus 1:9-15

Jesus identifiseer met ons in ons nood
Jesus kom doelgerig vanaf Galilea tot by die Jordaan om deur Johannes gedoop te word. Hoewel Johannes baie mense doop, is hierdie doop uniek. Jesus hoef nie sonde te bely nie. Hy benodig nie vergifnis en ook nie bekering nie. Tog is Hy gedoop en dit gee aanleiding tot ‘n reeks belangrike gebeure:
Eerstens gaan die hemel oop. Volgens die 1983 vertaling “het Hy die hemel sien oopskeur”. God, die Vader, kondig sy “welbehae” (1953 vertaling) oor sy Seun aan. En God, die Heilige Gees, demonstreer sy teenwoordigheid in Jesus deur die teken van ‘n duif wat op Hom daal.
Na hierdie verstommende gebeure volg Jesus se reis na die woestyn waar die Satan Hom versoek. Sy terugkeer uit die woestyn word gevolg deur nog twee belangrike gebeure: Johannes word in die tronk gegooi – waar hy uiteindelik vermoor word, en Jesus verklaar dat die Koninkryk van God teenwoordig is. “The time is fulfilled, and the Kingdom of God is at hand” (v 15 – KJ21).
Wanneer ‘n mens oorsigtelik na hierdie verloop van gebeure kyk, word dit duidelik dat Jesus se doop inderdaad die eerste belangrike gebeurtenis van sy openbare optrede is. Waarom is dit so belangrik? Waarom bevestig en vier die Vader en die Heilige Gees hierdie gebeurtenis?
Volgens die evangelie van Markus het Jesus een keer na sy eie doop verwys. Dit vind ons in Markus 10:38. Hier word dit duidelik dat daar vir Jesus ‘n direkte verband tussen sy doop en sy sterwe aan die kruis is. Die een belig die ander. Wat in die eerste gesimboliseer word, word in die tweede gedemonstreer.
Jesus se openbare bediening begin met sy doop en eindig met sy sterwe aan die kruis. Beide openbaar sy liefde vir ons, sy identifisering met ons nood en sy gehoorsaamheid aan die Vader. Vir ons is dit goeie nuus. Dis is ons verlossing, ons lewe.
Om oor na te dink (of te bespreek): Jesus se bediening staan in die teken van sy identifisering met ons sonde, gebrokenheid en nood. Word ons ook geroep om met mense in nood te identifiseer? Wat van die nood wat die MIV pandemie tot gevolg het?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans