Johannes 6:24-35
Volgens Johannes 6:1-15 het Jesus ‘n groot menigte gevoed. “Uit die verhaal is dit duidelik dat Jesus diep besorg is oor die skare se hongernood en dat Hy selfs ‘n seun se kospakkie instrumenteel kan gebruik om die nood aan te spreek”, het ek laas week geskryf.
Die dag ná Jesus die mense gevoed het, het hulle Hom weer gesoek – selfs al het dit beteken dat hulle per boot na Kapernaum moes reis (v 24). Maar toe hulle Jesus vind, het dit voorgekom of Jesus nie hulle opgewondenheid om Hom weer te sien, gedeel het nie. Hy het hulle daarmee gekonfronteer dat hulle oor brood alleen bekommerd is (v 26) en hulle uitgedaag om “vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee”, wat die Seun van die mens sal gee, te werk (v 27). Jesus het hulle uitgenooi om in Hom as die Een wat deur God gestuur is, te glo. “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het” (v 29). Die gesprek wat hierop gevolg het, gee die indruk dat die mense van Jesus vervreemd geraak het.
Bestaan daar spanning tussen Joh 6:1-15 en Joh 6:24-35 – tussen wat Jesus gedoen het toe hy die mense kos gegee het en wat Hy die volgende dag gesê het? Word die eerste gedeelte deur die tweede gedeelte kragteloos gemaak? Moet ons aflei dat “brood vir ons liggame” eintlik nie so belangrik is nie en dat “brood vir ons siele” die enigste werklike belangrike is?
Nee – hier is nie werklike spanning nie, want in albei gedeeltes word Jesus aan ons openbaar. Dit is dieselfde Jesus wat met ons praat deur die verhaal van die honger mense wat gevoed word en wat met ons praat deur sy gesprek met hulle die volgende dag. Aan hulle en aan ons openbaar Hy: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (v 35).
Uit die evangelie is dit duidelik dat Jesus diep besorg is oor die totale persoon. In Hom vind ons ware voedsel, want ons vind ons ware, totale (heelgemaakte) menswees in Hom.
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan ons die totale persoon in die konteks van die MIV pandemie bedien? Moeder Teresa het gesê: “There is more hunger for love and appreciation in this world than for bread.” Stem jy saam?