Bible Book: Matthew / Matteus
Chapter: 16
Verse: 21
Verse (to): 28
Matteus 16:21-28
Petrus se belydenis dat Jesus die Messias is, weerklink nog in die ore van die dissipels toe hulle die skokkende aankondiging hoor dat Jesus sal ly en vermoor word (vers 21). Vir Petrus is dit een te veel: Jesus is tog verkeerd. Hy sal Jesus moet stop terwyl daar nog tyd is (vers 22).
Dis duidelik dat Petrus ‘n Messias verwag wat die Koninkryk van God in die eerste plek in wêreldse en politieke terme sal bring. Om deur die amptelike leiers van Israel verwerp, verneder en doodgemaak te word, is nie op Petrus se agenda nie. Petrus is ‘n kind van sy tyd en sy verwagtinge en lewensuitkyk is deur die gemeenskap waarin hy leef, gevorm. Israel verwag ‘n Messias wat op die troon van koning Dawid sal sit en dit verwag hy ook.
Dis maklik om Petrus se reaksie op die aankondiging dat Jesus sal ly as blote kortsigtigheid te beskou en te dink: Hy moes geweet het dat die dienskneg van die Here sal ly. Hy moes geweet het dat die weg na verheeliking ‘n pad van vernedering is.
Maar die vraag wat my besig hou, is: vaar ons beter as Petrus? Wat is ons idees oor die kerk as die liggaam van Christus? Wat is ons reaksies wanneer ‘n broer of suster in Christus verwerp word of ly? Waarom vind sommige dit moeilik of is hulle skaam om te erken dat hulle susters en broers met MIV leef?
Jesus bestraf Petrus vir sy poging om Hom te keer op sy weg na die kruis (vers 23) en draai na sy volgelinge om aan hulle te verduidelik dat ware lewe gevind word deur met die lydende Christus te identifiseer (vers 24). Om Jesus te volg, beteken dat jy jouself verloën en jou kruis opneem. Die verrassende van hierdie oproep om jou kruis op te neem en gewilliglik jou lewe prys te gee, is dat dit daaroor gaan om die werklike betekenis van die lewe te vind (verse 25-26).
Om oor na te dink (of te bespreek): Wat beteken “om Jesus te volg, jouself te verloën en jou kruis op te neem” in die konteks van die MIV pandemie?
Om oor na te dink (of te bespreek): Wat beteken “om Jesus te volg, jouself te verloën en jou kruis op te neem” in die konteks van die MIV pandemie?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans