Submitted by Visitor (not verified) on Thu, 17/11/2011 – 11:55
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 5
Verse: 1 – 11
Teks: Lukas 5:1-11 (8/2/04)
In die preekstudie van BUVTON (Preekstudies met liturgiese voorstelle, 2003-2004) vir hierdie Sondag trek Jan Cloete ‘n baie sinvolle lyn vanuit die konteks van die teks na die konteks van die prediker. Hy wys daarop dat ons die verhaal van Lukas 5:1-11 moet lees teen die agtergrond van Lukas 4:18-19. Lukas 4:18-19 beskryf Jesus se “bedieningsprogram” wat gerig is op die randfigure, onder andere die armes, gevangenis en onderdruktes. Jesus se roeping van Petrus in Luk 5:1-11 sluit hom daarom in hierdie “bedieningsprogram” in.
Die konteks van die prediker wat ter sprake moet kom, is die randfigure van ons samelewing. Wat uit die teks na ons as lesers/ hoorders kom, is: “God se hand wat Hy na die randfigure in die samelewing uitsteek. Die randfigure sluit mense in wat met ‘n stigma leef, as gevolg van ‘n siekte wat hulle mag hê: Vigs, tuberkulose, of …”
Hierdie lyn mag vreemd val op die oor van hoorders wat dink dat die fokus van Lukas 5:1-11 vers 10b is: “Van nou af sal jy mense vang.” ‘n Letterlike lees van hierdie woorde (saam met die bekende “vissers van mense” uit die ander evangelies) kan maklik die misverstand by ons wek dat ons geroep word om ongelowiges “gevange te neem.” Wie so dink, sal gou vergeet dat Jesus in Mat 20:28 (Mark 10:45) gesê het: “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Dat Jesus vir Petrus sê hy word nou ‘n “visser van mense”, kontrasteer sy nuwe lewensgerigtheid met sy huidige/vorige vissermansbestaan. Daarom is dit nie ‘n beskrywing van die manier wat hy mense sal bedien nie.
Wat verder uit die verhaal van Lukas 5:1-11 opval, is dat Jesus in vers 4 vir sy dissipels beveel om juis dit te gaan doen wat hulle so pas nie kon regkry nie. Hy stuur hulle terug nie die skynbaar vis-lose water wat hulle die vorige nag so moeg en moedeloos gemaak het. Wat die gevolg van hulle gehoorsaamheid was, is goed bekend!
Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans