Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 13:59
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 8
Verse: 12
Teks: Johannes 8:12
Joh 8:12 is ‘n “anker-teks” vir Jesus se volgelinge. Jesus verklaar dat Hy die lig is. In sy teenwoordigheid word die donker van ‘n lewe wat op watter manier ook al uitsigloos geraak het, verander in die lig van ‘n lewe uit God se hand en voor sy aangesig. Nie alleen verklaar Jesus hier wie Hy is en wat Hy beteken vir die wêreld en in besonder vir sy volgelinge nie – Hy gee ook vir ons ‘n wonderlike belofte. Wie eenmaal die lig van Jesus in sy of haar lewe laat inskyn het en wie ook naby Jesus leef (Hom volg), sal nie weer in die duisternis hoef te lewe nie.
Wanneer Jesus belowe sy volgeling sal nooit in die duisternis lewe nie, is dit nie ‘n al-omvattende versekering teen enige teenspoed, hartseer, siekte of beproewing nie. Deur te let op hoe Jesus se lig in hierdie wêreld begin skyn met sy geboorte, bediening, kruisiging en opstanding, word dit duidelik dat die ganse wêreld nie oornag verander het nie. Toe Jesus as lig vir die wêreld verskyn het, het sy lig in die midde van ‘n klein, onderdrukte volkie geskyn. Jesus se lig skyn in hierdie stukkende wêreld en verlig mense in hulle omstandighede.
Daarom sal dit ‘n misverstand wees as ons uit Joh 8:12 wil aflei dat as ons Jesus net getrou volg, sal geen donkerte ooit weer oor ons lewens kom nie.
Jesus se volgelinge kan ook teenspoed beleef, in ongelukke kom, of struikel en val. Hulle kan ook siek word en kan daarom ook deur MIV en vigs geaffekteer word of kan ook ontdek dat hulle met MIV leef en daarvan siek word. Maar dit trek nie ‘n streep deur Joh 8:12. Die wonder is dat Jesus se belofte in Joh 8:12 geldig bly in ‘n stukkende wêreld en vir sy volgelinge wat dikwels ook stukkende mense is. Selfs in donker dae sal hulle Christus se lig ontvang wat lewe gee.
Ek wonder of Johannes aan hierdie uitspraak van Jesus gedink het toe hy aan die begin van sy evangelie geskryf het: “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh 1:5).
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans