Submitted by Visitor (not verified) on Wed, 09/12/2009 – 10:40
Bible Book: Genesis
Chapter: 1
Verse: 29 – 39
Teks: Markus 1:29-39

In die kort bestek van elf verse beskryf Markus vier gebeutenisse. Jesus gaan van die sinagoge na Simon se huis waar Hy sy skoonmoeder genees. Na sononder kom baie mense na Jesus en Hy genees siekes en dryf bose geeste uit. Vroeg die volgende oggend gaan bid Jesus alleen. Hierna vertrek Jesus en sy dissipels op reis deur ander dorpies van Galilea waar Hy preek en nog bose geeste uitdryf.

Jesus tree met ‘n doelgerigtheid op wat demonstreer dat Hy weet wat Hy moet doen en hoe Hy dit moet doen. Wanneer ‘n mens ‘n paar verse terugblaai en die gedeelte vanaf vers 16 tot 39 lees, word dit bevestig dat Jesus met ‘n duidelike fokus opgetree het.

Dit val my op dat Jesus op ménse gerig is. Hy neem Petrus se skoonmoeder se hand en help haar op, Hy ontvang die skare wat na Hom stroom en help hulle een vir een. Hy gaan deur Galilea om meer mense te leer en te help.

Tog laat Jesus Hom nie deur mense voorskryf nie. Petrus stel voor om langer in Kapernaum te bly, maar Jesus doen wat Hy in die vroeë oggendure van sy Vader ontvang het en vertrek na die ander dorpies. Jesus laat Hom ook nie deur die godsdienstige leiers se interpretasie van die wet voorskryf nie. Op die Sabbatdag (die dag waarop hulle ‘n algehele verbod op enige werk geplaas het) bevry hy die man wat met ‘n onrein gees besete is en genees Hy Petrus se skoonmoeder.

Ons weet dat Jesus deur God na Israel, na die wêreld gestuur is. In die lig van hierdie geweldige sending (of opdrag) lyk die optredes van Jesus, wat Markus in ons Skrifgedeelte beskryf, gering en weggesteek daar in die platteland van Galilea. Tog is dit hoe God se plan deur sy Seun ontvou. Mense (enkele persone) word gehelp en so word mense (sy dissipels) geleer wat God se Koninkryk beteken. Jesus se sending na die wêreld kry gestalte in hierdie gebeurtenisse.

Ons leef in ‘n tyd wat die omvang van die vigspandemie oorweldigend is. Wanneer ‘n mens hierdeur oorweldig word, wil jy vra: watter verskil maak my optrede? Om nie te doen wat God vra nie of om te doen wat God nie vra nie, beteken dat ons fokus verloor. Die belangrike vraag is daarom: doen jy dit wat God hier en nou van jou verwag? Om te doen wat God vra, is genoeg – al is dit “net” om ‘n vrou of man wat siek is, se hand te vat. Want dit is gestaltes van God se Koninkryk.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans