Nêrens op hierdie moeder-aarde is ons veilig nie. Al leef ons agter slot en grendel, diewering en elektriese heinings, al gaan ons nie meer gereeld uit nie. Die wêreld is ‘n gevaarlike plek. Maar dis niks nuut nie. Is dit genoeg rede om moedeloss en vreesbevange te wees ? Nee !
Ps 121 getuig dan dat God orals is. Probleem is net : glo ons dit werklik ? Of wil ons dit net sien?
Ps 121 is die produk van ‘n ontwortelde volk, dit vertel iets van hulle geloofstryd en hulle behoefte aan hulp en ja, hulle wanhoop. Waarskynlik het die koning van Jerusalem op die berge rondom Jerusalem die sprinkaanmenigte van vyandige leërmagte sien aankom. Ook die feesgangers moes van Jerusalem af weer huis toe gaan en bedags was die son warm.Sommiges het verkies om snags te loop, dan was die son nie hulle vyand nie. Aan die ander kant was die maan ‘n probleem vir digene wat geglo het dat die maan misterieuse dinge veroorsaak soos epilepsie en ander geestelike versteurings. ‘n Geskikte tyd, of liewers, veilige tyd om te reis was dan ook ‘n probleem.
As die pelgrimsdigter dan vra : hy kyk na die berge en wonder waarvandaan sy hulp gaan kom, is dit met geloofsekerheid. Die Almagtige Skepper van hemel en aarde is orals en Hy is nie aan die slaap nie en Hy beskerm hom. Die pelgrimreisiger kyk dalk vas teen die berge, maar die uitnodiging is om verby, bo-oor ,vanaf die berge te kyk na die Skepper van hierdie berge, van die hemel en aarde.Maar Hy is tegelyker tyd ook hulle Beskermer en Verlosser van Israel.
Die uitnodiging is om verder te kyk as net die uitdaging van die krisis, die hoë berge . Die uitdaging om nie angstig op homself en sy krisis te fokus nie, maar om op te kyk. Dit word eintlik ‘n oproep tot geloof om God te sien te midde van die gevaar/krisis. Die pelgrimreisiger ervaar hoedat hy bevry word van sy angs en onrustigheid en vind veiligheid in God.
Iemand het eenkeer gesê : God bewaar ons nie soos porseleinpoppies in ‘n glaskas nie. Ons kom nie deur hierdie lewe sonder letsels nie. Partykeer oorleef ons nie eens nie. Maar maak dit van Hom minder God ? Hy beloof nie oorlewing nie, wat Hy wel beloof is bewaring in nood.
Maar wat verwag ons van hierdie bewaring ? Dat ons nooit siek sal word of dat slegte dinge nie met ons sal gebeur nie ? Nee, dis deel van die lewe op hierdie moeder-aarde. Ons kan nie God se teenwoordigheid skep nie en ons hoef ook nie.Hy beloof dat Hy dit doen en Hy hou sy woord. Dit maak ons lewe hier op aarde, met al sy moeite,swaarkry, onveiligheid en verdriet, die moeite werd.
Ons word nie vanaf ‘n afstand beheer nie. God sny nie die kwaad en die seer weg nie. Hy neem dit op Homself in Christus Jesus. Onthou, ook Jesus het nie “oorleef “nie. Hy het “her-leef” ter wille van ons. Hy staan as die ewige Hoëpriester in vir God se beskerming. Hy waarborg dit. Daarom lê ons veiligheid in Hom.
Geskryf deur: Ds Kathleen Smith: Ned Hervormde Kerk Kaapstad