Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 21/11/2011 – 09:54
Year A (2010-2011)
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 17
Verse: 20 – 26
Teks: Johannes 17:20-26

Johannes 17:20-26 stel die baie belangrike en aktuele saak van kerkeenheid aan die orde. Daar is soveel preekstof hieroor dat dit maklik kan gebeur dat een belangrike aspek van kerkeenheid nie ter sprake kom nie: die konteks waarbinne ons eenheid gestalte moet kry.

Die konteks waarbinne die kerk in Suidelike Afrika geroep word om een te wees, is ‘n gemeenskap wat steier onder die impak van die vigspandemie. Daarom is dit noodsaaklik dat ons nadenke, prediking, gebede en optrede rondom Johannes 17 nie die vigspandemie sal ignoreer nie.

Aan die een kant: Die omvang van die vigspandemie beklemtoon die noodsaaklikheid van kerkeenheid.

Hierdie krisis, die omvang daarvan en die effek daarvan op individue, gesinne, hele gemeenskappe en uiteindelik ons hele streek (Suider Afrika) is te groot vir een kerk om “alleen” ‘n beduidende verskil te maak. Gesamentlike optrede, eenstemmige oproepe en antwoorde van die kerk van Christus is noodsaaklik sodat die christendom daadwerklik betrokke kan raak om die probleme rodom vigs aan te spreek.

Die afgelope Sondag was Vigs Herdenkingsondag. Heel moontlik was daar ‘n gesamentlike diens in die omgewing gereël. Hoeveel gemeentes was daar teenwoordig? Hoeveel Christene het dit belangrik genoeg geag om die eenheid met ander gelowiges op te soek om gesamentlik hulle nood voor God te bring? Gebrekkige bywoning kan op baie maniere verklaar word, maar ons behoort ernstig te vra in watter mate dit die gevolg is van óf ‘n onderskatting van die omvang van die vigspandemie óf ‘n onderskatting van die belangrikheid van die eenheid tussen gelowiges.

Aan die ander kant: Wanneer gelowiges daarna streef om betrokke te raak by die nood wat die vigspandemie tot gevolg het, ontdek hulle ‘n wonderlike eenheid.

Baie persone wat dit gewaag het om uit hulle gemaksone te beweeg en om daadwerklik by die vigskrisis betrokke te raak, kan getuig: Die fokus op die probleem – die saam soek na oplossings en die saam bid en werk – het gelowiges van verskillende gemeentes en denominasies saamgebind tot ‘n broederskap en susterskap wat hulle voorheen nie geken het nie.

Jesus se gebed om eenheid “sodat die wêreld kan glo” (Joh 17:21) en “sodat die wêreld kan weet” (:23) sluit in dat ons een sal wees in ons diens aan ‘n wêreld in nood.

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans