Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 11/02/2011 – 14:44
Year A (2010-2011)
Bible Book: Deuteronomy / Deuteronomium
Chapter: 30
Verse: 15 – 20

Die volk Israel was by ’n kritieke punt van hulle reis. Hulle sou die beloofde land binnegaan, maar op hierdie punt sou hulle vir Moses, hulle leier, verloor. Moses het dit geweet en daarom pleit hy ernstig by hulle om op die weg waarop hy hulle tot hier gelei het, te volhard. “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe” (v 19).

God het hulle uit Egipte verlos en hulle op ’n reis van 40 jaar deur die woestyn gebring. Hulle was die mense wat binne God se verbond geleef het. Vir hulle was die keuse nie om “in die verlossing te kom” nie, maar om te bly waar God hulle gebring het – binne die verbondsverhouding met Hom.

Vir baie van ons wat leef in gemeenskappe waar alles oor die individu gaan, is dit moeilik om die gemeenskaplike aspek van hierdie dringende oproep van Moses – om tussen lewe en dood te kies – te verstaan. Hierdie oproep om die lewe te kies, was aan Israel as volk, as gemeenskap gerig. Dit was ’n appel, eerstens en veral, op die leiers en familiehoofde om te kies en daarvolgens te lei. Die leiers van die stamme moes die regte rigting aandui en die familiehoofde moes hulle geliefdes op hierdie gekose weg lei. ’n Geslag later sou Josua nog op hierdie oproep van Moses reageer: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien” (Jos 24:15).

As Israel se leiers en besluitnemers sou kies om voortaan binne God se verbond te lewe, sou die hele gemeenskap oorvloedige lewe beleef – en dan sou selfs diegene wat sogenaamd sonder enige mag was, die geleentheid ontvang om hierdie wonderlike verbondslewe te omhels.

Wanneer gemeenskapleiers die regte keuses maak, wanneer diegene onder ons wat ander beïnvloed, die regte keuses maak, word dit vir almal wat “volg” makliker om die regte keuses te maak.

Om oor na te dink (of te bespreek): Maak my besluite dit vir die mense met wie ek saamleef makliker of moeiliker om die regte keuses te maak?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans