Submitted by Visitor (not verified) on Thu, 17/11/2011 – 11:51
Year A (2010-2011)
Bible Book: Jeremiah / Jeremia
Chapter: 1
Verse: 4 – 10
Teks: Jeremia 1:4-10

Jeremia se roeping was ‘n duidelike roeping om God se Woord te verkondig. “Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê” (Jeremia 1:9). Natuurlik roep God vandag nog mense om sy Woord te verkondig. Die gevaar is egter dat ons kan dink dat dit die enigste roeping is.

Volgens Lukas 4 het Jesus uit Jesaja 61 gelees en verklaar dat dit sy roeping beskryf. “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig” (Lukas 4:18,19).

Uit Paulus se argument in 1 Kor 13 kan ons aflei dat elke gelowige geroep word om die liefde van Christus uit te leef.

Dikwels hang God se roeping saam met die situasies waarin mense hulle bevind en krisisse waardeur gemeenskappe gaan. Daarom is dit nie vreemd nie dat daar tans mense is wat getuig dat God hulle geroep het om by die vigskrisis betrokke te wees.

Hoe raak dit my dat God mense geroep het om met jongmense oor MIV en vigs te praat, om berading te doen, om tuisversorging te lewer, en om op baie ander maniere by die nood van MIV geïnfekteerde en geaffekteerde mense betrokke te raak?

Wanneer ons Sondag stil staan by die roeping van Jeremia kan ons nie nalaat om te vra nie: Waartoe roep God my vandag?

Om voorbidding te doen? Om hulle wat reeds geroep is om diens te lewer te ondersteun (care for the carers)? Of om self direk by die vigskrisis betrokke raak?

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans