Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 04/12/2009 – 13:27
Bible Book: 1 John / 1 Johannes
Chapter: 3
Verse: 14 – 24
Teks: 1 Johannes 3:14-24

Wanneer ‘n mense hierdie gedeelte vanaf verse 14 tot 24 lees, vorm vers 14 ‘n inleiding of “opskrif” vir wat volg. Lewe en dood word teenoor mekaar gestel. In vers 15 verbind Johannes haat en moord ten nouste met mekaar. In verse 16 tot 18 en 23 verduidelik hy wat liefde is. Haat en liefde word dus ook teenoor mekaar gestel.

Om ‘n moord te pleeg, is om iemand van sy/haar lewe te beroof. Liefde doen die teenoorgestelde: dit gee lewe (vers 16). “Liefde gee lewe” kan natuurlik op twee maniere verstaan word: Aan die een kant kan dit beteken: “liefde is die gee van jou eie lewe” (vers 16) en aan die ander kant kan dit verstaan word as “liefde is om aan iemand anders lewe te gee”. Jesus is die volmaakte voorbeeld van liefde wat lewe gee. Hy het sy eie lewe gegee en daardeur het Hy vir ons die ewige lewe gegee.

Dat haat iemand van die lewe kan beroof en liefde aan iemand lewe kan gee, word soms op dramatiese wyse deur die verhale van mense wat met MIV leef, gedemonstreer. Omdat MIV ‘n persoon se immuunstelsel afbreek en verswak, word daardie persoon nie alleen buitengewoon vatbaar vir infeksies deur ander virusse nie – die persoon word ook baie kwesbaar vir sy/haar emosionele en sosiale omgewing. Daarom kan dit lettelik gebeur dat iemand wat met MIV leef en en wie se immuunstel verswak het, as gevolg van mense se liefdelose optredes (bv onttrekking, veroordeling, beskuldiging, verwerping) siek word en uiteindelik sterf. Aan die ander kant is daar ook verhale van persone wat met MIV leef, wie se gesondheid dramaties verbeter het as gevolg van mense se omgee, begrip, ondersteuning en aanvaarding. In kort: liefde het vir hierdie persoon nuwe gesondheid en lewe gegee.

“Wie nie liefhet nie, bly in die dood” (vers 14b). Wie liefhet, bly in die lewe – en gee lewe.

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans