NULL
Bible Book: Isaiah / Jesaja
Chapter: 11
Verse: 1
Verse (to): 16

 

Wanneer Jesaja 11 op die 2de Adventsondag in Suid-Afrika verkondig word (2de Advent se tema is tradisioneel “verkondiging”), mag dit in sommige gemeentes wees soos om stroom-op te probeer roei. Die “gees van die tyd” is vakansie – die skole het gesluit, sommige volwassenes is ook met vakansie en ander maak daarvoor gereed. Daarom mag baie van die mense wat kerk toe kom die behoefte hê dat die boodskap hulle sal help om in die “regte stemming” vir die vakansie (en kersfees) te kom.

Maar Jesaja is nie ‘n “vakansie-teks” nie. Die “luiperds wat tussen die bokkies lê”, is nie ‘n beskrywing van die rustige atmosfeer by die strandoord nie. Jesaja 11 is die verkondiging van hoop.
Hierdie hoop is verkondig aan die Israeliete wat gebuk gegaan het onder die aanslag van die Assiriërs (lees 10:28-32). Dit word op so ‘n wyse verkondig dat hulle wat nagmerries van vrees en angs kry, weer sal begin droom van wat God kan doen. Hy kan uit ‘n afgekapte boomstomp weer nuwe lewe laat spruit! By droom mag dit ook nie bly nie, want die hoop moet gestalte kry in vreugdevolle diens aan die Here en die nastreef van geregtigheid (vers 3) onder leiding van die Gees van die Here.
Natuurlik kan ons terugkyk na die koms van die Gesalfde, Jesus, en raaksien hoe Jesaja 11 in sy lewe en bediening ‘n werklikheid geword het…
Die verkondiging van Jesaja 11 roep veral op dat ook óns sal hoop en die Here sal dien as mense wat die Gees ontvang het “wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here”. Die geregtigheid wat die Heilige Gees ons leer nastreef, maak ons sensitief vir die armes en die ootmoediges (vers 4a). Indien die gemeente reeds aandag gegee het aan die kwesbaarheid van vroue, kan dit weer genoem en beklemtoon word.
Al sou ons Jesaja 11:6-8 met ‘n “bril van realisme” lees en besef dat ons nie veel kan doen om die wolwe tussen die skape, die luiperds tussen die bokkies en die leeus by die kalwers (sonder ‘n slagting!) te laat saamleef nie, is dit wel die aard van die hoop om te vra (werk) vir ‘n gemeenskap waar alle vroue (jonk en ouer – en natuurlik ook kinders en mans) veilig sal wees teen die verdere verspeiding van die MI virus.
Miskien is Jesaja 11 tog ‘n “vakansie-teks”?!
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans