Bible Book: Psalms
Chapter: 30
Verse: 1
Verse (to): 13
Teks: Psalm 30 (en 2 Konings 5:1-14 en Markus 1:40-45)
Psalm 30 is ‘n danklied van Dawid (vers 1) wat siek was en genesing ontvang het. Sy gebed om genesing is deur God beantwoord (vers 3). Sy geweldige dankbaarheid hou daarmee verband dat hy tydens sy siekte gevrees het om te sterf (vers 10). God se genadige ingrype het gelukkig beteken dat hy weer ‘n kans op lewe ontvang het. Daarom sal hy God loof en word almal wat die inwyding van die temple meemaak, opgeroep om God te loof (vers 5). Want God genees siekte en Hy gee lag waar daar trane was (vers 6), feesklere vir hulle wat rouklere dra (vers 12).
Psalm 30 sing van genesing. Kan alleen hulle wat genesing ontvang het, saamsing? Sluit hierdie Psalm diegene uit wat siek is omdat hulle nie op ‘n soortgelyke wyse God se genesing ondervind het nie? Wat sê hierdie Psalm vir iemand wat terminaal siek is? Watter troos is hier vir iemand wat met MIV leef?
Die RCL vra dat hierdie Psalm saam met 2 Konings 5:1-14 en Markus 1:40-45 gelees word. Hierdie verhale uit die Ou en Nuwe Testament is albei verhale van genesing van melaatsheid. In die tyd en omgewing waarin die Bybelverhale afspeel, was melaatsheid die “gevreesde, ongeneeslike siekte” – die siekte wat mense eensaam en alleen gelaat het. In 2 Konings 5 word Naäman van Aram deur die profeet Elisa van Isreal van sy melaatsheid genees. Die verhaal word so vertel dat dit duidelik is dat dit die God van Israel is wat Naäman genees. In Markus 5 genees Jesus ‘n melaatse wat by Hom om genesing kom smeek.
Die twee verhale van 2 Konings 5:1-14 en Markus 1:40-45 vertel van God se genade wat wyer en groter as ons vooropgestelde idees is. Die God van Israel genees die melaatse Arameër. Jesus raak aan die melaatse en stuur hom om by die priester (by die tempel) te gaan toon dat hy genees is. Hierdie melaatses word nie uitgesluit nie, maar ingesluit.
Wie die God van Psalm 30, van 2 Konings 5:1-14 en Markus 1:40-45 leer ken en sy groot genade ontdek, sal saam met Psalm 30 kan getuig dat daar by Hom lewe is, dat Hy trane wegdroog, dat Hy feesklere gee. Ons kan iets hiervan verstaan wanneer ons saam met Paulus ontdek dat God se genade vir ons genoeg is (2 Kor 12:9). En hierdie genade van God sluit niemand by voorbaat uit nie.
Dan kan ons Psalm 30 saamsing, al bevind ons ons nog in ‘n gebroke wêreld.
NASKRIF:
‘n Preek oor 2 Konings 5:1-14 en Markus 1:40-45 kan by http://www.swedenborgchapel.org/read_sa_sb2003_6.html gevind word.
NASKRIF:
‘n Preek oor 2 Konings 5:1-14 en Markus 1:40-45 kan by http://www.swedenborgchapel.org/read_sa_sb2003_6.html gevind word.
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans