Miga 6:8 is een van die bekendste en mees-aangehaalde verse van die Ou Testament.
Dit vorm die klimaks van ‘n hofsaak wat God met Israel aangegaan het.
God roep die berge en fondamente van die aarde tot getuies van sy aanklag (v 2). Sonder om spesifieke voorbeelde van Israel se oortredings te noem, verwoord God die pyn van sy gebroke hart wanneer hy roep: “My volk, wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeg gemaak? Antwoord My!” (v 3). Die pyn van ‘n gebroke verhouding kom nog skerper na vore teen die agtergrond van God se vroeëre dade van sorg en liefde teenoor sy volk. Hy het hulle uit die slawehuis van Egipte verlos, aan hulle leiers gegee, hulle selfs deur ’n vyandige profeet geseën en hulle in die beloofde land gebring (vgl v 4 & 5).
Hoewel die volk se reaksie in verse 6 en 7 die indruk skep dat God se aanklag hulle in die hart geraak het, verstaan hulle steeds nie dat die probleem nie ’n gebrek aan godsdienstige aktiwiteite is nie, maar ’n gebroke verhouding met God en die onreg in die gemeenskap wat hieruit volg. Daarom sal baie en duur offers sonder opregte berou nie die verhouding herstel nie. Opregte bekering moet gestalte kry in ’n gewilligheid om binne God se goedhartigheid teenoor sy mense te lewe. Hulle moet die diepste waardes van die verbond wat God met hulle gesluit het – reg (“justice”) en erbarming (“mercy”) – beoefen.
God se riglyne vir ‘n versoende verhouding vra reg, erbarming en ‘n wandel met Hom. Dis belangrik dat ons sal insien dat dit nie oor drie verskillende aktiwiteite gaan nie maar dat reg, erbarming en ’n wandel met God gesamentlik ’n ware verhouding met Hom uitdruk. Wanneer ons enige een van hierdie van die ander twee losmaak, bring dit die verhouding self in gedrang.
Daar is baie verhale vanuit die MIV pandemie wat toon dat pogings om reg sonder erbarming te beoefen, juis tot onreg lei.
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan ons mekaar help om reg en erbarming saam te beoefen in ons wandel met God?