Bible Book: Numbers / Numeri
Chapter: 14
Verse: 1
Verse (to): 45
Teks: Numeri 14
Numeri 14 (nie deur die RCL gebruik nie) is ‘n hoofstuk met verskeie belangrike temas. Die skrywer vertel op dramatiese wyse hoe die geskiedenis van Israel ‘n ongelukkige en hartseer wending geneem het. In plaas daarvan om die beloofde land in besit te neem, moet hulle terugdraai op die woestynpad.
Met die lees van hierdie aangrypende hoofstuk, het die verrassende sprong van vers 12 na vers 13 my veral opgeval.
In vers 12 maak die Here aan Moses die volgende voorstel: “Ek gaan hulle [die volk] tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal Ek jou ‘n volk maak, groter en sterker as hulle!” Vir Israel beteken hierdie voorstel die einde (die dood), maar vir Moses moes dit tog ‘n aantreklike voorstel wees. Dit sou beteken dat Moses verhef word van die leier van die nageslag van Abraham tot die vader van ‘n nuwe volk! Die erns van hierdie “aanbod van God aan Moses” word onderstreep as ons onthou dat dit die tweede keer is wat dit gebeur – vergelyk Eksodus 32:10.
Numeri 14:13 vervolg sonder meer met: “Maar Moses het vir die Here gesê” en hierna volg Moses se pleitgebed om die behoud van Israel as volk. Moses wys die aanbod van vers 12 van die hand.
Ons ken die verhaal en daarom klink dit vanselfsprekend, maar kan ons vir ons indink wat dit van Moses gevra het om God se “voorstel” van die hand te wys en nog eens vir Israel as volk in die bres te tree?
Wanneer ons in vers 20 lees dat die Here Moses se gebed verhoor, weet ons dat Moses die regte keuse gemaak het om nie God se “aanbod” van vers 12 te aanvaar nie. Moses het God se “aanbod” van die hand gewys omdat hy God se beloftes onthou het en Hom persoonlik geken het.
Numeri 14:12 en 13 het my laat wonder oor die kerk en Christene se betrokkenheid by die vigspandemie. As Christene en kerkleiers, soos Moses, werklik die belange van God se mense bo dié van hulleself stel, sal daar dan nog soveel apatie en onbetrokkenheid wees? Hoekom moet ons dan wag tot die vigspandemie ons eie gemeente direk raak voor ons iets begin doen?
Stel jou voor dat Moses sou bid: Dis reg so, Here, laat Israel maar sterf, solank ek en my huis bly lewe, is ek tevrede.
Dis tog ondenkbaar! Of dalk nie?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans