Markus 8:27-38
Petrus se belydenis dat Jesus die Christus of Messias is, het deur die geskiedenis van die kerk ‘n fundamentele rol gespeel. Wat ‘n wonderlike voorbeeld om te volg! Dit is duidelik dat Markus sy verhaal so vertel dat hy die leser nooi om Petrus se belydenis na te volg.
Jesus se vraag, “Maar julle, wie, sê julle, is Ek?” en Petrus se belydenis (v 29) vorm die draaipunt in Markus se evangelie. Vanaf hierdie punt beweeg die verhaal vinnig na die laaste week in Jerusalem en Jesus se kruisiging. Baie Christene kan ook terugkyk op hulle reis met God en besef dat hulle eie oomblik van belydenis dat Jesus Messias of Verlosser is, ‘n draaipunt was.
Maar wanneer ‘n mens die gedeelte van verse 27 tot 38 lees, word dit duidelik dat daar veel meer as ‘n blote mondelinge belydenis op die spel is. Na Petrus se belydenis verduidelik Jesus dat Hy, die Christus, verwerping en ‘n gewelddadige dood sal ly en uit die graf sal opstaan (v 31). Verder verduidelik Hy dat Hy van sy dissipels verwag om ‘n keuse te maak om hom op hierdie weg te volg (v 34).
Jesus sluit hierdie oproep tot dissipelskap af met dié merkwaardige woorde: “Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader” (v 38).
Het hierdie waarskuwing om nie vir Christus skaam te wees nie alleen maar betrekking op ons selfbewustheid om sy Naam in die wêreld waarin ons leef, te bely? Of is dit moontlik dat Jesus sy dissipels uitgedaag het om spesifiek nie skaam te wees vir Hom as lydende Christus, sy gewilligheid om gekruisig te word en sy verminkte liggaam aan die kruis nie?
In Romeine 1:16 verklaar Paulus: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (1953 vertaling). Daarom was Paulus nie skaam om Grieke te bedien nie – teenstrydig met hoe hy as Jood opgevoed is. In Hebreërs 2:11 lees ons dat “Jesus nie skaam (is) om hulle sy broers te noem nie”. Volgend Hebreërs 11:16 is “God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ‘n stad gereed gemaak.”
Die teenoorgestelde van “skaam wees vir” is ‘n positiewe gesindheid. Daarom beteken om “nie skaam te wees vir iemand nie” ‘n gewilligheid om te assosieer met, of langs die persoon te staan.
Om oor na te dink (of te bespreek): Is dit moontlik dat ons ons “vir Christus skaam” wanneer ons skaam is om al sy broers en susters óns broers en susters te noem? Is dit moontlik dat ons “skaamte vir Christus” toon wanneer ons ons losmaak van sy broers en susters wat met MIV en vigs leef?