Bible Book: Matthew / Matteus
Chapter: 13
Verse: 24
Verse (to): 30

Matteus 13:24-30

Die noodsaaklikheid om gereeld onkruid uit die akkertjies van jou tuin skoon te maak, vorm deel van die ABC van tuimaak. ‘n Bietjie ondervinding bevestig dat dit ‘n goeie praktyk is. Waarom verhinder die landbouer van die gelykenis van Matteus 13:24-30 dan sy slawe om die onkruid tussen die koring uit te trek?
Die antwoord van vers 29 lyk genoegsaam: “as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek”. Maar al lyk dit soos ‘n verstandige en praktiese antwoord, raai ek dat die besluit om die onkruid te laat staan nie so vanselfsprekend is nie. As dit so ‘n algemeen bekende praktyk was om onkruid tussen die koring te laat, waarom was die slawe dan so gretig om die onkruid uit te trek?
Daar is ‘n verrassings element in die antwoord van die eienaar van die koringland. Hierdie element van verrassing kommunikeer aan ons wat Jesus onder sy dissipels se aandag wil bring.
Die gelykenis is nie ‘n les in tuinmaak of landbou nie. Dit handel oor die geduld van God.
Om jou toewyding aan God deur jou ywer om die Christen gemeenskap waaraan jy behoort “skoon te maak”, te demonstreer, mag toon dat jy iets van die beginsels van tuinmaak weet. Maar dit sal in teenstelling wees met die beginsels van die Koninkryk. In God se Koninkryk geld die verrassende beginsel van die geduld van God. (Lees Romeine 12:16-21 as nog ‘n voorbeeld van hierdie beginsel.)
Wanneer Christene God se oordeel uitvoer, kan dit maklik vir ander mense skadelik wees. Daar is baie verhale binne die konteks van die MIV pandemie wat hiervan getuig.
Ons weet daar sal ‘n finale dag van oordeel wees. Vers 30 bevestig dit. Die rede waarom hierdie dag nog nie aangebreek het nie, is danksy God se geduld (vergelyk 2 Petrus 3:9). So lank daardie dag nog nie aangebreek het nie moet ons nie dink dit is moontlik om elkeen in netjiese kompartemente volgens ons beoordeling, te plaas nie.
Om oor na te dink (of te bespreek): Het jy al die versoeking beleef om van iemand “ontslae te raak” omdat hy of sy nie as ‘n ware Christen voorgekom het nie?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans