Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 04/12/2009 – 14:25
Bible Book: 1 Corinthians / 1 Korintiers
Chapter: 15
Verse: 19 – 26
Teks: 1 Korintiërs 15:19-26

“Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.” Hierdie stelling van vers 20 vorm deel van Paulus se argumente van 1 Korintiërs 15.

Dit sluit die argument (waarmee hy in vers 12 begin het) af waarin hy aantoon dat om die moontlikheid van enige lewe na die dood te ontken, ons by die absurde situasie bring waar Christene bejammer moet word dat hulle “net vir hierdie lewe” op Christus hoop (vers 19). Gelukkig is dit nie waar nie, sê Paulus in vers 20, want “Christus is opgewek uit die dood”.

Die stelling van vers 20 vorm ook die begin van Paulus se volgende argument wat tot by vers 28 strek. Die opstanding van Christus beteken Hy is “eersteling uit dié wat gesterf het” en daarom het ons die hoop dat die laaste vyand, die dood self, ook vernietig sal word (vers 26)!

Paulus gebruik die stelling van vers 20 om die Christene van Korinte terug te bring na die grondslag van hulle geloof (vergelyk ook 1 Korintiërs 15:1-4). Daarom kan 1 Kor 15:20 in verskillende situasies en omstandighede hulle wat bemoediging en ondersteuning nodig het, help.

Wat jou huidige stryd ook al mag wees – dit sal die moeite werd wees om hierdie vers te neem, daaroor na te dink en dit te memoriseer. Dit is nou ‘n goeie tyd om dit te doen, want vandag is Paasfees Sondag. Dié dag verkondig: Christus is opgewek uit die dood!

Om oor na te dink (of te bespreek): Wat is die verband tussen jou hoop en jou geloof in die opstanding van Christus?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans