Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 04/12/2009 – 14:16
Bible Book: 1 Kings / 1 Konings
Chapter: 19
Verse: 1 – 18
Teks: 1 Konings 19:1-18

Dit is maklik om te kritiseer. Veral wanneer jou kritiek oënskynlik met dié van God ooreenstem.

God se woorde aan Elia in verse 9 en 13 (“Wat maak jy hier, Elia?”) asook in verse 15-18 is inderdaad vermanend, maar gee dit ons die reg om allerlei kritiek oor Elia uit te spreek? ‘n Hele aantal van die opmerkings wat ek ook hierdie verhaal gelees het, sluit skerp kritiek in oor die wyse waarop Elia op Isebel se dreigement in verse 2 en 3 reageer het, sowel as sy klagtes in verse 4 en 10.

Die verhaal van Elia in 1 Konings 19 mag miskien nie ‘n klassieke voorbeeld van depressie of uitbranding wees nie, maar dit herinner my aan mense wat hulleself tot by die punt van uitputting dryf in hulle diens aan die Here. Ek is bevoorreg om mense te ontmoet wat op een of ander wyse betrokke is in die vigspandemie. Só baie van hulle is werklik fisies uitgeput.

Vir die toeskouer (van buite) mag dit soms maklik lyk om te sien hoe dinge verander kan word. Wat daarvan om meer mense te betrek? Onthou jy om vir jouself te sorg? Hoekom neem jy nie ‘n blaaskans nie? Maar dit mag wees dat hierdie mense (wat reeds betrokke is) eenvoudig nie die luuksheid het om sulke keuses te maak nie. Soms kan ‘n krisis so oorweldigend wees dat jy net nie kan gaan sit en ontspan “terwyl jou huis aan die brand is” nie!

Of ons nou saamstem dat “die huis aan die brand is” of nie, oor een vraag moet ons ernstig dink: Wat het ons gedoen om te help?

God se antwoord aan Elia in verse 15-18 onderstreep die insig dat dit nie oor een persoon alleen gaan nie (selfs nie iemand met die statuur van Elia nie). God se plan sluit Gasael, Elisa en sewe duisend ware Israeliete in.
Om oor na te dink (of te bespreek): Is daar iemand wat jy ken vir wie jy op een of ander praktiese wyse kan help om ‘n bietjie te rus?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans