NULL
Bible Book: Jeremiah / Jeremia
Chapter: 18
Verse: 1
Verse (to): 10

 

Teks: Jeremia 18:1-10

[Lectionary lesings vir 9 September 2007: Revised Common (Jeremia 18:1-11 of Deut 30:15-20); Roman Catholic (Wysheid van Salomo 9:13-18) en Episcopal (Deut 30:15-20)]
Ons kan God met ons lewens vertrou
In 1902 het Adelaide Pollard die beeld wat ons in Jeremia 18:6 vind, gebruik om ‘n lied te skryf wat steeds baie bekend is. “Have Thine own way, Lord! Have Thine own way! Thou art the Potter; I am the clay. Mold me and make me after Thy will, while I am waiting, yielding and still.” Miskien het jy ook herinneringe dat jy hierdie lied (of vertalings) reeds in jou kinderdae gesing het.
Die probleem is dat so ‘n algemeen bekende lied die indruk kan skep dat die Skrifgedeelte waarna dit verwys presies dit beteken wat die lied verwoord. Op hierdie wyse word die lied dan ons sleutel waarmee ons die Bybelse teks ontsluit en verstaan. Dit is egter nodig om te onthou dat dié gedeelte in die boek Jeremia geskryf is omtrent twee en ‘n half millenia voor Pollard haar besondere lied geskryf het.
Na ‘n eerste lees van Jeremia 18:1-10 mag die indruk wees dat hierdie gedeelte oor God se soewereine mag om met Israel te doen wat Hy wil, handel. Luister na vers 6b: “Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel”. Maar wanneer ons oplettend lees, besef ons dat dit nie hier oor ‘n willekeurigheid van God gaan waaroor Israel geen invloed het nie. In verse 8 tot 10 word dit duidelik dat God se herskepping van die klei (vgl vers 4) beïnvloed word deur óf Israel “hom bekeer” (vers 8) en óf “hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan My” (vers 10).
In die Skrifgedeelte is daar ‘n ernstige beroep op ons om gehoorsaam aan God se Woord te wees sowel as ‘n waarskuwing dat ongehoorsaamheid verskriklike gevolge het (vgl vers 10).
Tog is Jeremia 18:1-10 meer as ‘n ernstige waarskuwing. In die beeld wat Israel as klei in God se hande voorstel (vers 6) is die essensie van die wonderlike boodskap wat Paulus in Efes 2:10 beskryf, opgesluit. “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (1983 vertaling).
Die Pottebakker het inderdaad wonderlike planne met sy klei. In en deur Christus skep Hy ons tot kunswerke – al mag dit nodig wees om die klei nog eens te vorm. Wanneer ons dit verstaan, kan ons saam met Pollard sing: “Mold me and make me after Thy will”.
Om oor na te dink (of te bespreek): Watter troos is daar in Jeremia 18:1-10 vir die persoon wat ontdek het dat hy/ sy met MIV leef?
PS: jy mag die volgende artikel interessant vind: http://chi.gospelcom.net/DAILYF/2002/11/daily-11-27-2002.shtml
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans