Bible Book: Romans / Romeine
Chapter: 5
Verse: 1
Verse (to): 11

 

Romeine 5:1-11

Met die lees van Romeine 3:27 tot 5:11 was ek verras om te ontdek dat Paulus in 5:2 verklaar dat ons as Christene inderdaad roem! (Baie vertalings gebruik verheug (rejoice) in 5:2, byvoorbeeld die 1983 vertaling se “ons verheug ons ook in die hoop”. Maar die oorspronklike woord het dieselfde stam as die woord wat in 3:27 en 4:2 met “roem” vertaal word. Dit word in sommige vertalings weerspieël, byvoorbeeld die 1953 vertaling: “en ons roem in die hoop”. Vergelyk ook 5:3 en 5:11.)
Hoe kan Paulus dan hierdie woord in 5:2 gebruik terwyl hy uitdruklik in 3:27 en 4:2 verklaar dat daar vir Christene geen gronde is om te roem nie en dat Abraham ook geen rede tot roem gehad het nie omdat hy deur geloof geregverdig is?
Wanneer ‘n mens hierdie skynbaar teenstrydige verse met mekaar vergelyk, word dit duidelik dat wat Paulus in 5:2 verklaar in werklikheid iets anders is as wat hy in 3:27 afwys. Terwyl die “roem” van 3:27 inwaarts op jouself gerig is en terugskouend is op wat jy gedoen het, is die “ons roem” (of die “ons verheug ons”) in 5:2 na buite en opwaarts gerig op wat God doen en nog sal doen. Daarom is die verheug wees (roem) van 5:2 nie ‘n uitdrukking van self-regverdiging nie – dit is ‘n uitdrukking van hoop.
Wanneer ons dit begryp, kan ons begin verstaan hoekom Paulus kan voortgaan met ‘n selfs meer verbasende stelling: “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry” (5:3a 1983 vertaling). Wanneer “roem” op prestasies gebasseer word, sal dit versuur wanneer dit onder beproewing kom. Aan die ander kant – “verheug wees in hoop” kan steeds verheug wees – selfs wanneer dit beproef word.
Maar is dit werklik moontlik om onder swaarkry verheug te wees? Ek dink dis belangrik om te onthou dat Paulus in verse 1 tot 5 deurentyd van “ons” praat. Om te praat van verheug wees onder swaarkry is in die eerste plek ‘n belydenis, ‘n getuienis, ‘n uitdrukking van persoonlike hoop.
Miskien het jy al persoonlik ondervind wat hoop in tye van swaarky beteken. Miskien het jy al die voorreg gehad om te beleef wat hoop vir iemand anders wat ly, beteken. In die konteks van MIV en vigs is daar baie getuies van mense wat leef met hoop, mense wat hulle in God verheug deur ons Here Jesus Christus (vgl Rom5:11).
Om oor na te dink (of te bespreek): In vers 5 sluit Paulus sy “lied van hoop” af met: “en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” Daar is skynbaar ‘n sterk band tussen hoop en liefde. Watter verskil kan jou liefde maak in die lewe van iemand wat worstel om te midde van swaarkry te bly hoop?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans