Bible Book: Nahum
Chapter: 1
Verse: 1
Verse (to): 15

 

Nahum 1 verkondig oordeel én troos, waarskuwing én hoop. Die twee hoofstukke wat volg, fokus volledig op die komende oordeel oor Nineve. Beteken dit dat die oordeel vir Nahum swaarder weeg as die troos? Moet ons dan ook meer klem op God se oordeel as sy troos plaas? Met ander woorde: Moet ons hoofstuk 1 alleen uit die posisie van die Assiriërs lees? Of moet ons daarna luister soos die weerlose, uitgelewerde Israeliete dit sou hoor? Dan word die troos nie deur die oordeel verdring nie – dan is daar juis troos in die wete dat God in beheer is en uiteindelik die oordeel voltrek!

Nahum tree op in die tyd wat die noordelike tien stamme van Israel vernietig en ook Juda deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is. Daarom was dit vanselfsprekend om die Assiriërs as wrede verdrukkers te beskryf (wat God sal veroordeel) en Israel/Juda as weerloos en uitgelewer aan hulle oorheersers (wat God sal red). Wanneer daar so ‘n duidelike onderskeid tussen geweldenaar en slagoffer is, is dit ook maklik om te onderskei tussen wie veroordeel en wie vertroos moet word. Wat vir die Assiriërs ‘n boodskap van oordeel is, is terselfdertyd vir die weerlose volkie van God ‘n boodskap van troos.
Ons leef nie soos Nahum in ‘n situasie waar ons duidelike lyne kan trek tussen geweldenaars en slagoffers nie. Juis daarom moet ons versigtig wees om te dink ons weet wie getroos moet word en wie veroordeel moet word (veral as ons onthou dat ons geneig is om die troos vir onsself toe te eien en die oordeel vir ander toe te reken). Te meer nog omdat ons onder die skaduwee van die kruis en by die lig van die oop graf leef. Deur Jesus se kruis het die onafwendbare (toekomstige) oordeel verander in ‘n oordeel wat (vir gelowiges) reeds voltrek is. Deur sy opstanding het die troos van God vir sy volk uit alle grense gebreek om ook vir ons in Suid-Afrika in 2004 in te sluit. Daarom word die troos wat ook in Nahum 1 uitbreek nie deur die oordeel wat Nahum verkondig, verdring nie.
Die reaksies wat MIV en vigs by baie tot gevolg het, noodsaak ons om baie versigtig te wees met ons lees en gebruik van Skrifgedeeltes soos byvoorbeeld Nahum. “Judgementalism” is een van die algemene reaksies wat ook (veral?) Christene openbaar. Die neiging om te veroordeel is egter nie deur MIV of vigs veroorsaak nie – die epidemie het maar net vir ons gewys hoe vlak hierdie gesindheid lank reeds in ons harte skuil.
Nahum 1 bied hierdie Sondag vir ons die geleentheid om die troos wat die profeet verkondig, te omhels en om dit ook met ons naaste te deel:  Nahum se bekrywing van God se besordheid (vers 2), lankmoedigheid (vers 3), die feit dat Hy ‘n toevlug is en sorg vir dié wat by Hom skuil (vers 7), sy verlossing (vers 13) en dat sy redding fees skep (vers 15). Hierdie troos hou vas aan die wete dat God groter is as al die skrikwekkende magte in die natuur (ook skrikwekkende siektes), dat Hy die finale uitslag bepaal en dat wie na Hom vlug en by Hom skuil, sal ontdek dat Hy goed is (vers 7).
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans