Bible Book: Numbers / Numeri
Chapter: 13
Verse: 1
Verse (to): 33

Teks: Numeri 13

Jare gelede het rekenaars nog min grafiese vermoëns gehad en het dit nogal verbeelding gekos om jou voor te stel hoe die formateringe in jou dokument deur die printer hanteer sal word. Gelukkig het rekenaars verbeter en programme ook en kon die rekenaar die formatteringe ook op die skerm vertoon. Hierdie nuwigheid is as WYSIWYG bekend gestel. What you see – on the screen – is what you get – on the paper. Vandag is dit vanselfprekend vir enige rekenaargebruiker.
WYSIWYG het vir my ‘n toepassing in die geloofslewe wat deur die verhaal van Numeri 13 demonstreer word: Wat ons met ons geloofsoë sien (of juis nie sien nie) is dikwels wat ons deur ervaring sal beleef.
Die Israeliete het na die beloofde land gekyk en wat hulle gesien het, was reuse, versterkte stede en “halfgode”! (Verse 28, 29 en 31 – 33. Die woord wat in vers 33 met “reuse” vertaal word, kan ook “half-gode” beteken. Vgl Gen 6:4) Wat hulle gesien het, word in hulle uitroep in vers 31 opgesom: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”
Die volgende hoofstuk vertel dat dit is wat hulle gekry het. God beveel Moses en Israel om terug te draai na die woestyn waar hulle vir veertig jaar sou rondtrek (Num 14:28-30).
As hulle maar net na Kaleb en Josua geluister het! Hulle het ook gesien wat die ander gesien het, maar hulle het méér gesien: Dat die Here sy beloftes sal waar maak (Num 13:30 en 14:8)! Hulle het gesien dat die Here groter as hierdie “reuse” is.
Hierdie verhaal het my laat dink aan hoeveel klem dikwels op vrees in “Christelike boodskappe” wat teen MIV en vigs waarsku, voorkom. Mense moet sekerlik gewaarsku word en by name moet kerke hulle jongmense teen gevare waarsku. Maar as daar doelbewus met ‘n vrees-motief gewerk word, begin dit dan nie al te veel na die boodskap van die tien verkenners klink nie?
Wat die kerke hulle jongmense laat “sien”, sal waarskynlik korreleer met die volwassenes wat die kerke sal “kry”.
Moet ons nie eerder doelbewus soek na wat Kaleb en Josua se boodskap in hierdie konteks van die vigspandemie beteken nie?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans