Vir baie mense is vigs en die dood een en dieselfde ding. Hulle dink miskien: “As ek vigs het, sal ek beslis doodgaan!” Dieselfde kan egter van kruisiging gesê word. Kruisiging was in Bybelse tye ‘n doodsvonnis. Die manier waarop iemand gemartel is, daarna aan ‘n kruis gespyker, in die skroeiende son gehang en laastens met stokke geslaan is om die bene in die liggaam te breek, was almal maniere om seker te maak dat die persoon wat deur kruisiging ter dood veroordeel is, wel sal sterf (vergelyk byvoorbeeld “The Passion of the Christ”).
Menslik gesproke het Jesus gesterf. Maar die leë graf vertel ‘n ander verhaal. Dit vertel die verhaal van lewe teen alle menslike verwagtings in. Jesus het uit die dood opgestaan, en deur hierdie daad het Hy die dood en ook die vrees wat met die dood geassosieer word, oorwin. In die woorde van die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 15:55: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”
Menslik gesproke is MIV en vigs ‘n doodsvonnis. Met medikasie, die regte dieet en ‘n gesonde leefstyl is dit moontlik om nog baie jare te leef nadat iemand met MIV gediagnoseer is. Maar ‘n mens hoef maar net deur die doodsberigte in koerante te blaai om te besef dat dit vir baie mense wel ‘n doodsvonnis beteken.
En tog vertel die verhaal van die leë graf vir ons dat MIV en vigs nie die einde van die pad is nie. Menslik gesproke moes dit so gewees het. Maar die leë graf sê vir ons dat God ‘n ander plan in gedagte het – ‘n nuwe lewe waarin ons nie meer die dood hoef te vrees nie. In Christus word ons deel van ‘n nuwe lewe, ten spyte van wat met ons liggame gebeur. Die leë graf sê vir ons dat God ons die lewe hier op aarde in oorvloed bied, selfs al word ons liggame stadig maar seker afgebreek. In Christus kan ons die lewe in al sy volheid leef voordat ons sterf, en wanneer ons uiteindelik doodgaan (met of sonder vigs), verseker die leë graf ons ook dat ons ewig met God sal lewe.
Na Goeie Vrydag het Paassondag gevolg. Dit gee ons hoop, ten spyte van ons MIV-status.
Om oor na te dink (of te bespreek): Wie kan ek bemoedig deur hom of haar te herinner aan die hoop wat Paassondag gee?
Geskryf deur Arnau van Wyngaard
Die boodskap is voorheen in Maart 2008 uitgestuur