Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 13:46
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 16
Verse: 25 – 33
Teks: Johannes 16:25-33

Waaraan hou ‘n mens vas wanneer dit lyk of jou bekende wêreld en omstandighede waaraan jy gewoond is en waar binne jy veilig voel, disintegreer?

Joni Eareckson Tada vertel dat haar lewe in skerwe gelê het toe sy uit die hospitaal ontslaan is en die werklikheid van haar verlamming tot haar deurgedring het (sy was ‘n kwadrupleeg na ‘n swemongeluk): “Those early days when I first got out of the hospital were terrifying. Without the encouragement and perspective of Scripture, I honestly don’t know how I would have survived. Like a strong lifeline, God’s word kept me from drowning in my despair” (Secret Strength, p 92).

Die gesprek (Joh 14 – 16) wat Jesus met sy dissipels gevoer het enkele ure voor Hy gevange geneem is en vermoor is, bevat verskeie “reddingstoue” of “ankers” wat die dissipels van totale moedeloosheid moes bewaar. Een van hierdie “lewenslyn woorde” kry ons in Joh 16 vers 33: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Al sou die dissipels se wêreld oor ‘n paar uur skynbaar uitmekaar val, moet hulle goeie moed hou, want hulle Meester het die wêreld oorwin.

Daar is baie maniere waarop die vigspandemie ‘n mens so kan oorweldig dat jy voel of jy wegsink in ‘n put van moedeloosheid. Die oorweldigende statistiek. Die nood van ‘n moeder of vader wie se gesondheid onomkeerbaar agteruit gaan. Die groot verantwoordelikheid van ‘n tiener wat die rol van ouers moet oorneem en vir kleiner broers en susters moet sorg. Die stryd om vrede te maak met jou MIV+ status. …

Luister gerus weer na Jesus se woorde in Joh 16:33. “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Terwyl Jesus dit vir sy dissipels gesê het, was sy kruis en opstanding nog in die toekoms. Vandag weet ons dat Hy as oorwinnaar uit die graf opgestaan het.

Dit herinner my aan die verhaal van Mat 14:28-31. Toe Petrus in die water begin wegsink, het Jesus hom aan die hand gegryp en uit die water getrek. In Joh 16:33 steek Jesus sy hand uit en hou Hy ons vas in ‘n wêreld waar ons ook kan voel of ons in die water wegsink.

Author: N du Toit (Ds)Language: Afrikaans