Year C (2009-2010)
Bible Book: Matthew / Matteus
Chapter: 24
Verse: 37
Verse (to): 44

http://www.cabsa.org.za/sites/default/files/CABSA%20Communitas%20Riglyne%20vir%20WAD%202010.pdf

Die volgende gebed kom uit dié riglyne –

Hemelse Vader,

in hierdie land en in hierdie tyd van MIV en vigs roep ons na U.

Ons bid dat u Naam geheilig sal word,

dat waar daar donkerte is, u kinders u lig sal bring,

dat waar daar wanhoop is, u kinders hoop sal bring,

dat waar daar hartseer is, u kinders sal troos,

dat waar daar eensaamheid is, u kinders sal omhels.

Uit u hand, Vader, ontvang ons elke dag ons lewe nuut.

Jesus, ons Verlosser,

in hierdie land en in hierdie tyd van MIV en vigs roep ons na U.

Ons bid dat u koninkryk sal kom.

Vergewe ons dat ons so bekommerd is net oor onsself.

Help ons en ons leiers om u voorbeeld van geregtigheid, barmhartigheid en trou na te volg,

sodat ons stigmatisering en diskriminasie sal oorwin,

sodat ons prakties by nood betrokke sal raak,

sodat ons onbeskaamd sal staan by hulle onder ons wat deur MIV en vigs geraak word.

Christus, U is ons Leidsman.

Gees van God, ons Trooster,

in hierdie land en in hierdie tyd van MIV en vigs roep ons na U.

Ons bid dat u wil sal geskied.

Verlos ons van afgestomptheid en traak-my-nie-agtigheid,

en skenk aan ons harte van vlees,

sodat U ons kan lei en leer en gebruik.

Ons bid vir almal wat U so nodig het.

Bemoedig elkeen wat as gevolg van MIV met gesondheid worstel,

troos elkeen wat as gevolg van ander se liefdeloosheid swaarkry,

versterk elke versorger wat mag moeg word,

help almal wat op verskillende maniere probeer om hierdie pandemie te bekamp,

en gee aan ons en ons kinders die wysheid om verantwoordelik en waaksaam op te tree.

Dankie dat U vrede en vreugde skenk daar waar U lei en ons gehoorsaam.

Amen

Om oor na te dink (of te bespreek): Is daar iets prakties en positief wat jy in hierdie tyd rondom Wêreldvigsdag kan doen?

 

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans