Submitted by Visitor (not verified) on Wed, 09/12/2009 – 14:14
Bible Book: Judges / Rigters
Chapter: 16
Verse: 1 – 31
Teks: Rigters 16
Die verhaal van Simson en Delila is goed bekend en selfs “gewild” in Kinderbybels en as “Sondagskool-les”. Maar dit is beslis nie ‘n teks wat in die wêreld van vandag (2005 n.c.) op ‘n naiewe manier verkondig kan word nie. Tereg wys iemand daarop dat wat Simson in vers 30 doen (deur die tempel op homself om te trek en die Filistyne saam met hom die dood in te ruk) ooreenkomste toon met die weersinwekkende selfmoordsendings wat sedert 11 September 2001 herhaaldelik plaasvind!
As ek reg onthou, is daar aan my as kind vertel is dat Simson een van die heldefigure van die Ou Testament was. My herinnering is verder dat die blaam vir sy tragiese val in hoofstuk 16 op die skouers van die “verleidelike Delila” geplaas is.
Wanneer ek nou as volwassene weer die Simson verhaal lees, is dit moeilik om nie teleurgesteld te wees in Simson nie. Hierdie kragreus het skynbaar min respek vir menselewens getoon. Sy talle seksuele verhoudinge met meisies van Israel se vyandige bure, skep die indruk dat hy ewe min respek vir ‘n vrou as mede-mens gehad het.
Tereg is gesê dat sy uiteindelike fisiese blindheid die gevolg was dat hy reeds geestelik blind was vir die werklike implikasies van sy roeping om Israel te lei.
Hoewel ek teleurgestel is in (my kinderheld?) Simson, is ek nie teleurgesteld in die verhaal wat hier in die Bybel opgeteken is nie. Dit help my om iets te ontdek van die onbegryplike genadige wyse waarop God werk.
In Efesiërs 2:1-10 lees ons dat God mense uit die dood red om sy goedheid te bewys en hulle skep (kunswerke maak) om sy goeie dade uit te voer. God se plan vir ‘n wêreld in nood is dat sy kinders, sy kerk, die sout en die lig sal wees. Maar dit beteken nie dat God enkel alleen geredde mense wat nuut gemaak is, gebruik nie. In die dae toe “elkeen gedoen (het) wat reg is in sy eie oë” (Rigters 17:6, 21:25) het God iemand soos Simson gebruik om sy volk te help.
Dit sal ‘n groot fout wees as ons as Christene dink die Here sal net vir ons (Christene) gebruik om die vloedgolf van die vigspandemie te keer (en dan hieruit aflei dat ons baie tyd het en dat almal vir ons wag). Wie goed waarneem, sal sien dat waar daar nood is en die kerk en gelowiges nie ingryp nie, is daar wel ander mense wat ‘n verskil maak. En wie is ek om te sê God gebruik nie ook vir hulle nie? Lees gerus weer Matteus 21:28-32
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans