Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 18/10/2010 – 08:36
Year C (2009-2010)
Bible Book: Jeremiah / Jeremia
Chapter: 31
Verse: 27 – 34

“Daar kom ’n tyd, sê die Here” (v 27a). Dié belofte van ’n nuwe tyd wat sal aanbreek, word in vers 31 herhaal. Hierdie woorde moes vir die moedelose Israeliete in ballingskap ’n wonderlike bemoediging gewees het. Daar is nog hoop! God belowe ’n nuwe verbond (v 31).

Volgens Jeremia 1:10 is hierdie priester, seun van Gilkija, deur God aangestel om af te breek en om op te bou. “Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant” (1953 vertaling). Dit lyk asof die meeste van Jeremia se energie op die negatiewe kant van sy opdrag gefokus was – met die gevolg dat hy dikwels hartseer en bedruk was (vgl 20:14-18).

Hoe wonderlik moes dit gewees het om uiteindelik hierdie belofte van God te ontvang. Om te besef dat die lang, donker nag verbygaan en ’n nuwe dag aanbreek.

Hoe wonderlik is die inhoud van hierdie belofte. God self sal Israel en Juda herbou (v 28). Die nuwe geslag sal nie meer onder die sondes van hulle voorouers hoef te ly nie (v 29-30). God sal ’n nuwe verbond met sy mense sluit (of die verbond hernuwe) wat beter sal wees as die een wat by Sinai gesluit is (v 31-32). Die kern van hierdie verhouding sal wees dat God sy woorde op hulle harte sal skryf (v 33). Die gevolg hiervan sal wees dat almal God sal ken en sy wil verstaan (v 34). God se verrassende genade sal dit moontlik maak, want Hy sal hulle sonde vergewe (v 34b)!

Dit is duidelik dat God se bedoeling vir sy mense goed is en dat hy self die inisieerder van hierdie nuwe verhouding is.

Daar is steeds hoop!

Daarom is die tyd om te bou en te plant.

Om oor na te dink (of te bespreek): Watter tekens van God se werk sien jy in hierdie tyd van MIV en vigs?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans