Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 13:50
Bible Book: Acts / Handelinge
Chapter: 8
Verse: 26 – 40
Handelinge 8:26 – 40
Die Etiopiese hofdienaar was ‘n baie belangrike persoon (v 27). Moontlik gelykstaande aan ‘n Minister van Finansies van ons tyd? Hy moes vertroud gewees het met ingewikkelde dokumente. Die gedeelte van Jesaja wat hy gelees het, was sekerlik in eenvoudiger taal geskryf. Daarom was dit eintlik bietjie naïef van Filippus om te vra of hy verstaan (v 30)? (Dit was in daardie dae gebruiklik om hardop te lees.) Tog, verrassend genoeg, het die hofamptenaar nie verstaan wat hy lees nie. En hy vra uitdruklik vir hulp. Dit is verbasend! Dat so ‘n belangrike persoon vir hulp vra! Dit is nederigheid. Hoeveel van ons sou vandag ons afhanklikheid aan ‘n vreemdeling toon soos hierdie man gedoen het?
Die antwoord op die vraag wie die persoon was na wie die profeet Jesaja verwys het, is waarskynlik vandag vir baie kerkgangers en Bybellesers vanselfsprekend. Maar hier is ‘n belangrike aspek om op te let: Hierdie hofamptenaar, wat vir die eerste keer in sy lewe verstaan wie Jesus is, gaan dadelik oor tot aksie (v 36-38). Pas na Filippus die goeie nuus aan hom verkondig het, vra hy om in die water langs die pad, waar hulle gereis het, gedoop te word.
Sonder twyfel is daar baie mense wat vandag, soos die hofamptenaar, die Skrif sonder begrip lees. Maar hoeveel keer het ons in ons gemeentes tot aksie oorgegaan na ons tot oortuiging gekom het dat ons ‘n saak beter begryp (bv die nood van mense wat met MIV en vigs leef)?
Bietjie meer as ‘n maand gelede het ons die opstanding van Jesus Christus, ons Here, herdenk. Dit is hierdie Man van wie die hofamptenaar gelees het. Dit was deur die lees en verstaan van die goeie nuus wat die hofamptenaar se lewe verander is. Het die afgelope Paastyd ons lewens verander? Ons sien soveel mense in ons gemeentes en gemeenskappe wat op verskillende maniere swaarkry. Sommige kry swaar as gevolg van MIV en vigs. Het die goeie nuus ons beweeg om iets daaromtrent te doen? Indien nie – kan ons dan regtig beweer dat ons die goeie nuus verstaan?
Om oor na te dink (of te bespreek): Wat kan ek en my gemeente/ gemeenskap vir hulle wat met MIV en vigs leef, doen, as bewys daarvan dat ons die goeie nuus verstaan?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans