Bible Book: Philippians / Filipense
Chapter: 3
Verse: 4
Verse (to): 14

 

Filippense 3:4-14

In verse 5 en 6 noem Paulus sewe dinge wat hy as wins beskou het voor hy Jesus ontmoet het. Ons moenie die waarde, belangrikheid en rol wat Paulus voorheen hieraan geheg het, onderskat nie. Die dinge was kosbaar vir hom. Dit het aan hom identiteit, menswaardigheid en sekuriteit gegee. Maar dit was vals sekuriteite waarop Paulus gereken het. Een ding kon dit hom nie gee nie: ware lewe in Christus.

Dit was eers nadat Paulus die opgestane Christus op die Damaskuspad ontmoet het, dat hy instaat was om die beperkinge van sy vorige godsdienstige lewe in te sien. Toe kon hy begryp wat die verskil is tussen om op vals sekuriteite te vertrou of om op Christus te vertrou. Nou kon hy terugkyk en sê: “Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer” (vers 4). Maar nou gee sy verhouding met Christus aan hom ‘n nuwe vertroue, om “in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (vers 9, 1953 vertaling).

Is dit moontlik dat ons as Christene met Paulus kan saamstem – dat ons geregtigheid alleen deur geloof in Christus ontvang – en tog nog aan vals sekuriteite vashou?

Ja, dit is inderdaad moontlik. Paulus het self die suiwer boodskap van verlossing deur geloof in die sterwe en opstanding van Christus aan die Filippense verkondig. Tog blyk dit dat hulle maklik toegegee het aan ander se leringe wat verkondig het dat hulle iets meer nodig het.

Daar is baie dinge wat die potensiaal het om valse sekuriteite in ons lewens te word: vertroue op die aandelemark vir ‘n gemaklike aftrede; vertroue op politieke leiers vir ‘n beter lewe; die geloof dat slegte dinge slegs met slegte mense gebeur; ensovoorts.

Die storie van Paulus se lewe waarsku ons teen sulke valse sekuriteite. Onthou: hy was in die tronk toe hy hierdie brief geskryf het.

Om oor na te dink (of te bespreek): Is daar “vals sekuriteite” wat ons binne die konteks van die MIV pandemie meer kwesbaar kan maak?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans