NULL
Bible Book: Mark / Markus
Chapter: 10
Verse: 46
Verse (to): 52

Dikwels begin ons om vir onsself en die wat ingeval het by ons manier van leef  te vertel hoe verkeerd of sleg of gevaarlik mense buite ons sirkel is.  Ons plak as’t ware ’n plakkertjie op hulle, ’n teken, ’n stigma wat sê: “Hierdie persoon is onrein. Bly weg!” Stigma is vir baie mense ’n realiteit.  Persone wat MIV+ is, word dikwels so gemerk. Mense naby aan hulle word ook dikwels so gemerk. En predikante wat probeer om MIV en Vigs-vaardige gemeentes te lei word dikwels so gemerk. Selfs ’n jong man of jong vrou wat aandring op die gebruik van kondome word so gemerk. Soms is bloot jou velkleur of jou familienaam of jou lewenswyse genoeg dat jy ’n plakkertjie kry.

Hebreërs 9:11-14 handel oor hierdie ding van onreinheid. Lank terug is mense rein verklaar nadat die bloed van bulle en bokke en die as van ’n vers oor hulle gesprinkel is. Dit moes maar weer en weer gedoen word omdat die “plakkertjie” nooit regtig afgekom het nie. Maar nou word ons gereinig deur die bloed van Christus. En Hy reinig ons vir eens en vir altyd. Die plakkertjie, die stigma, is wat Hom betref weg. Ons kan weer leef in diens van die lewende God!
Maar reinheid is nie net ’n kultiese werklikheid nie. Dit speel nie net in eredienste rondom sakramente en rituele af nie. Die bloed van Christus neem nie net sonde (en daarmee die dood) weg nie, maar bevry ons sodat ons ’n lewe-gewende gemeenskap kan word. Reinheid het te doen met die vraag of jy ander help lewe of hulle los sodat die gemeenskap hulle kan dood maak deur stigma en liefdeloosheid, of sodat hulle sterf aan hulle selfopgelegde stigma.
Stigmatisering lei tot ontkenning en tot stilte, gevolglik word mense onwetend blootgestel aan die virus. Kortom: stigmatisering het die potensiaal om dood te maak! Christus kom neem nie net die stigma wat aan ons kleef weg nie, Hy neem ons in diens om in Sy naam die stryd vir alle gestigmatiseerde mense op te neem, sodat hulle kan lewe – net soos Hy lewe!
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan ons met ons optrede en met ons woorde daartoe bydra dat stigma afgebreek word?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans