Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 14:15
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 20
Verse: 19 – 31
Die verhaal van Thomas in Johannes 20:19-31 is die verhaal van iemand wat met sy geloof geworstel het. Hy sê self volgens vers 25 “As ek nie … sal ek nooit glo nie.”
Die her-lees van hierdie verhaal binne die konteks van die vigspandemie, armoede, droogtetoestande in die Wes-Kaap en ook wrede moorde wat onlangs in my omgewing plaasgevind het, het my ‘n ander perspektief gegee: Thomas, wat die byeenkoms van die dissipels vermy, is ‘n Thomas wat hoop verloor het.
Wanneer hy in sy gesprek met die dissipels na Jesus verwys, beklemtoon hy die wonde wat Jesus aangedoen is. Die gate in sy hande, die verminking van sy sy.
As jy “The Passion of the Christ” of ‘n soorgelyke uitbeelding van die grusame kruisiging van Jesus gesien het, kan jy jou dalk iets voorstel van wat Thomas beleef het. Hy moes aanskou hoe sy Meester verraai, ontmenslik, vermink en vermoor is. Dit moes Thomas tot in sy siel ontstel het en alle hoop met wortel en tak uit sy gemoed geruk het. Hy sou waarskynlik saamstem met die Emmaus-gangers se klag in Lukas 24:20-21: “.. hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.”
Wanneer ons met die omvang en impak van krisisse soos die vigspandemie en die armoede-golf wat oor Afrika spoel, gekonfronteer word, kan ook ons hoop geblus word. Wanneer MIV en vigs ‘n persoonlike werklikheid word, word hierdie waarksynlikheid nog groter.
Maar die tyd van Paasfeessondag en die weke daarna is ‘n tyd wat hoop herleef. Die magsdaad van God wat sy Seun uit die graf gewek het, bring ware hoop (lewende hoop) in ons harte (1 Pet 1:3). Jesus red Thomas van sy hoop-verlore toestand deur as lewende Here aan hom te verskyn.
Te midde van die vigspandemie wat dreig om ons hoop te blus, het ons dié hoop nodig wat geanker is in die wete dat Jesus se graf leeg is, dat ons Vader Hom met ‘n magdaad uit die greep van die dood geruk het, dat Hy as Lewende Here onder alle omstandighede met ons is.
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans