Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 21/05/2010 – 14:25
Year C (2009-2010)
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 14
Verse: 8 – 21

Die konteks van Jesus se gesprek in Johannes 14:8-21 is (as onderdeel van Johannes 14-17) dié van Jesus se afskeid van sy dissipels. Herhaaldelik verduidelik Jesus dat Hy oorgelewer sal word, dat Hy verraai sal word, dat Hy vermoor sal word en dat sy dissipels Hom in die steek sal laat. Dit het die dissipels verward, geskok en diep hartseer gemaak. Hulle het by ‘n skeidslyn gekom waar hulle die teenwoordigheid en nabyheid van Jesus gaan verloor!

Hierdie krisis wat die dissipels beleef het, is vir meeste mense een van dié grootste: om die teenwoordigheid van ‘n geliefde(s) te verloor – om eensaam te word! Ten spyte van die ideale van ons tydsgees wat selfstandigheid, selfversorging en onafhanlikheid as tekens van sukses voorhou, bly een van ons diepste angste steeds “eensaamheid”. Die “leegheid van alleen-wees”.

Vir gelowiges wat deel van ‘n aktiewe gemeente is, of die voorreg van ‘n gelukkige gesinslewe, toegewyde familielede of getroue vriende ken, mag “eensaamheid” ‘n vae, onbekende bedreiging wees. Maar om die impak van Jesus se trooswoorde in Johannes 14:8-21 te verstaan, is dit nodig om in die afgrond van hierdie “leegheid van alleen-wees” te kyk. Een manier om dit te doen, is om jou in te leef in die posisie van die dissipels toe dit begin duidelik word dat hulle Meester van hulle weggeneem gaan word.

Nog ‘n manier om iets van die “leegheid van alleen-wees” te begin verstaan, is om jou in te leef in die posisie van iemand wat ontdek dat hy/sy MIV + is. Voeg hierby dat hierdie persoon weet (of vrees) dat, as hierdie inligting bekend sou word, dit vir geliefdes en vriende totaal onaanvaarbaar sal wees!

Vir sy dissipels, wat by die afgrond van eensaamheid staan, verseker Jesus in Johannes 14 van die Heilige Gees se teenwoordigheid. Ja, Hy gaan weg, maar nee, hulle sal nie as eensames agterbly nie. Deur die Heilige Gees sal Hy steeds by hulle wees. Die belofte en die teenwoordigheid van die Heilige Gees trek hulle – en ons – van die afgrond van eensaamheid weg.

Die Heilige Gees het gekom om “vir ewig by julle te wees” (v 16). Daarom vier ons Pinksterfees, want die Heilige Gees het gekom om ons van eensaamheid te verlos.

Wie hierdie “verlossing van eensaamheid” beleef het, sal nie kan toekyk wanneer mense gestigmatiseer en daardeur vereensaam word nie.

Om oor na te dink (of te bespreek): Wat kan gemeentes doen om seker te maak daar is nie eensame mense in hulle midde nie? Veral nie mense wat eensaam is omdat hulle bang is dat hulle MIV status bekend sal word nie?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans