Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 08/12/2009 – 15:16
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 18
Verse: 1 – 8

Lukas 18 vers 1 – 8 is die verhaal van iemand wat deur die samelewing as onbelangrik geag word. Die weduwee was nie van belang, of ryk, of invloedryk nie en daarom is sy geïgnoreer, na die rand van die samelewing verdryf. So ’n weduwees was uitgelewer aan die genade van ander vir haar voortbestaan. Hierdie vrou verkeer in nood, waarskynlik sonder ’n vriend of familielid om haar by te staan en sy word uitgebuit deur ’n gewetenlose regter.

Die regter is ’n ongewone man vir sy tyd: hy is ’n regter wat geen eerbied vir God of agting vir ’n mens gehad het nie, en dit in weerwil van Eks 22:22,23: “Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie. As jy tog so iemand veronreg, en hy na My roep, sal Ek na sy hulpgeroep luister.” Die regter se optrede is vreemd, omdat die regspraak juis op die wet van God gebou word en omdat eerbied vir mense so ’n belangrike rol in hierdie wet speel. Hy steur hom nie aan God of mense nie – sy regspraak ontaard in onreg-spraak.

Nie alleen word die weduwee deur die samelewing verdryf nie, maar sy word ook deur die een wat haar moes help, verwerp. Soms gebeur hierdie “verdryf” bloot passief, ander kere weer is dit ’n aktiewe verwerping van een met wie ek nie wil assosieer nie. Dikwels is die maatstaf redelik arbitrêr, soos geloof, of ras, of welvaart, of seksuele oriëntasie of MIV status. Ons samelewing vandag het net so veel verwerpte “weduwees” as in Jesus se tyd.

En daarom vertel Jesus vir hulle ’n gelykenis waardeur die waarheid verkondig word dat God op sy tyd sekerlik die volhardende gebed sal verhoor. As ’n weduwee se volharding ’n slegte regter reg kan laat optree, hoeveel te meer ’n liefdevolle vader?

Die gelykenis eindig hoopvol wanneer Jesus sê: Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? God belowe uitkoms vir sy kinders wat op hom vertrou, al moet Hy dan ’n onwillige gewillig maak om die regte ding te doen.
Om oor na te dink (of te bespreek): Is daar iemand aan wie jy ’n billike antwoord verskuldig is?

Author: L Foot
Language: Afrikaans