Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 18/11/2011 – 12:08
Year A (2010-2011)
Bible Book: Acts / Handelinge
Chapter: 11
Verse: 1 – 18
Handelinge 11:1-18

Die preekvoorstel van Johan van der Merwe in Buvton se “Preekstudies met liturgiese voorstelle, 2003-2004”, Bl 175-6, bied ‘n goeie geleentheid om een van die groot probleme van MIV en vigs in ons samelewing ter sprake te bring, naamlik verwerping (=onttrekking van iemand in nood). Wanneer dit bekend word dat ‘n persoon MIV positief is of dat iemand se ernstige siekte vigs-verwant is, plaas die gemeenskap so ‘n persoon buite die “jy word aanvaar, jy is welkom” sirkel. Die preekvoorstel se beskrywing van hoe mense wat nie “deel van ons” is nie deur liefdelose taal/gedagtes weggedryf word, vergelyk goed met MIV positiewe persone se ervarings.

Die openheid waartoe die Heilige Gees vir ons, soos vir Petrus en die gemeente in Jerusalem, wil bevry, gaan nie oor godsdienstige of selfs kulturele “mure” alleen nie. Alle maniere wat ons bedink om onsself van mense te distansieer, hulle te kritiseer en selfs te veroordeel, word deur die verhaal van Handelinge 11:1-18 in ‘n nuwe lig gestel.

Wanneer ‘n mens dink hoe bekend die verhaal van Petrus en Kornelius is, wil jy vra: hoe kon dit hoegenaamd gebeur dat daar soveel negatiewe emosies rondom MIV en vigs ontstaan het? Die aanvanklike indruk dat dit ‘n siekte is wat gay of homoseksuele mans tref, maak die stigmatisering miskien ‘n bietjie meer verstaanbaar, maar beslis nie aanvaarbaar nie.

In ‘n gemeenskap waar daar nog soveel afkeer en veroordeling rondom MIV en vigs is, sal gemeentes (soos die gemeente in Jerusalem) tot die insig moet kom dat dit nie vir ons is om sommige as onrein te ag nie (Hand 11:9). Deur dit te doen, loop ons die gevaar dat ons sal vind dat die Heilige Gees “gegaan” het en ons het “agtergebly”…..

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans