NULL
Bible Book: Matthew / Matteus
Chapter: 7
Verse: 1
Verse (to): 6

Teks: Matteus 7:1-6 (12)

Dis belangrik om te onthou dat hierdie onderrig van Jesus direk na 6:33 volg. “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee”, het Jesus so pas gesê.
Wat beteken dit om jou hart, gedagtes, talente, tyd, geld, ensovoorts op die Koninkryk van God te rig? Daar is baie antwoorde, maar ‘n eerste antwoord vind ons in wat Matteus hier vanaf 7:1 beskryf: Jesus het verder gepraat oor hoe ons teenoor ons medemens moet optree.
Die eerste voorbeeld wat Jesus gebruik, is ons neiging om te veroordeel – om die splinter in die ander se oog uit te wys (7:1,3). Wat Jesus hieroor sê, is helder en duidelik in drie woorde saamgevat sodat ‘n kind dit kan verstaan: “moenie oordeel nie”. In 7:12 kom Jesus weer terug na ons optrede teenoor ons medemens met die bekende “goue reël”: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.”
As Christene Jesus se oproep om nie te oordeel nie en om ander te behandel soos ons behandel wil wees, getrou uitgeleef het, sou die geskiedenis van die eerste twee dekades van die vigspandemie anders gelyk het. In te veel gevalle het Christene (ook kerkleiers) juis dit gedoen wat Jesus hier afwys. Verhale van veroordeling en verwerping is legio.
Die situasie waarmee nou geworstel word – dat MIV infektering en vigs gestigmatiseer is, is in ‘n groot mate as gevolg van mense se haastige veroordeling en liefdelose verwerping. Die effek wat dit op geïnfekteerdes en geaffekteerdes het, is van persoon tot persoon ‘n hartseer verhaal.
Wanneer ek die geleentheid gehad het om een van hierdie tallose hartseer verhale te hoor, wil ek graag vir die Christene wat so maklik veroordeel en verwerp het, vra: watter een van die drie woorde “moenie oordeel nie” verstaan jy nie??
Jesus sê met die oordeel waarmee ons oordeel, sal ons geoordeel word. Daar is sprake van ‘n tweede oordeel – ‘n oordeel wat “terugkeer”.
Die vraag “hoe oordeel Christene (die kerk) oor die vigspandemie?”, het ‘n teenvraag: “Hoe oordeel die vigspandemie oor Christene (die Kerk)?
Author: (Unknown)
Language: Afrikaans