Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 18/11/2011 – 12:07
Year A (2010-2011)
Bible Book: Acts / Handelinge
Chapter: 16
Verse: 9-15
Teks: Handelinge 16:9-15

Ons Hemelse Vader skep nuwe lewensmoontlikhede uit doodloopstrate.

Vigs herdenkingsondag vestig ons aandag op die werklikheid dat ons in vigs te make het met ’n epidemie wat mense se lewens kortknip. Vir baie is Vigs Herdenkingssondag in die besonder ’n dag wat hulle wat reeds gesterf het, onthou moet word. Om aan ‘n vigsverwante siekte te sterf, het vir baie beteken dat hulle deur hulle gemeenskap (soms selfs familie!) verstoot is. Dit gebeur nog steeds! Die verskrikking van hierdie siekte was (en is nog) nie alleen die liggaamlike afbreking nie, maar die verwerping en die eensame sterfbed. Daarom is dit nodig dat hulle wat so gesterf het, ten minste in ons gedagtes, weer hulle volle menswaardigheid ontvang.

Vigs herdenkingsondag sal vir Christene wat die Vader van Jesus Christus ken, méér wees as ’n dag van herinneringe aan oorledenes. Vir ons sal daar ook herinneringe wees aan troos en genesing. Vir volgelinge van Jesus die Christus sal hierdie dag ook in die teken van hoop staan. Vigs herdenkingsondag staan tog in die tyd van Pase.

Paasfees is die fees van die opstanding van die Seun van God uit die dood. Dit is fees, want Pase vertel dat God begin het om sy herskeppingswerk in ons gebroke wêreld te laat deurbreek. Die opstanding van Jesus uit die graf is vir gelowiges dié versekering dat ons Vader lewe uit die dood en daarom ook nuwe moontlikhede uit vasgeloopte situasies skep.

Op die sesde Sondag van Pase onderstreep die RCL tekste die boodskap dat God nuut skep. (Johannes 14:23-29, Handelinge 16:6-15, Openbaring 21:22-22:5 en Psalm 67.)

Openbaring 21:22-22:5 vertel hoe God uiteindelik alles nuut sal maak. In die nuwe Jerusalem sal daar lig, lewende water, vrugte en genesing wees.

Johannes 14 en Handelinge 16 moet gelees word binne die konteks van vas-geloopte situasies. In Johannes 14 sit Jesus se dissipels om hulle Meester wat so pas verklaar het dat Hy binne kort sal sterf. Vir hulle is dit die einde van die pad. Maar Jesus verseker hulle dat daar iets nuuts op hulle wag: die Heilige Gees sal kom om hulle te vergesel.

In Handelinge 16 lyk dit asof al Paulus se planne om verder te gaan, vergeefs is. Hy wil na Asië, maar die Heilige Gees keer hom. Hy wil na Bitinië, maar weer sê die Gees “nee!” Dan lyk dit of hulle maar begin terug draai “huis toe”, maar die Heilige Gees het ’n ander plan: In Masadonië moet die evangelie verkondig word. God maak ’n nuwe begin – sy gemeente moet ook in hierdie gebied en verder tot stand kom en groei.

Ons Vader is die God wat nuwe moontlikhede skep. Hy doen dit juis wanneer dit vir sy kinders lyk of hulle in doodloopstrate beland het. Vir baie mag die pandemie van MIV en vigs soos ’n doodloopstraat lyk. Ten spyte van soveel “vordering” neem infeksies toe en saam daarmee ook sterftes. In hierdie situasie kan ons ons tot ons Vader wend met die bede van Psalm 67 “Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn”!

Op vigs herdenkingsondag kan ons en moet ons bid. Bid vir gebroke gesinne omdat soveel gesinslede al gesterf het. Bid vir hulle wat moet leer om met MIV te leef. Bid vir soveel organisasies en mense wat poog om ’n daadwerklike verskil te maak. Bid vir navorsing op mediese gebied. Bid vir die ingrype van God in hierdie “doodloopstraat”.

“Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn”!

  • Dat God ons genadig mag wees sodat ons wysheid vir die krisis sal ontvang en die hoop sal behou.
  • Dat God ons sal seën sodat al ons menslike pogings werklik vrug mag dra en ’n verskil sal maak.
  • Dat God self sal ingryp en tot ons redding sal verskyn – want ten slotte kan net Hy werklik ’n verskil maak.

Hierdie versoek mag ons op geen manier as selfsugtige gebede bid nie. Psalm 67 is nie selfsugtig nie, maar is gerig op die volke en die nasies. Die verlange na God se ingrype is hier die verlange dat God se reddingsdade onder almal bekend sal word sodat Hy oral geprys sal word.

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans