Bible Book: Revelation / Openbaring
Chapter: 5
Verse: 1
Verse (to): 14

 

Teks: Openbaring 5

Ons sê mos dat menige jong meisie droom oor hoe haar toekomstige bruidegom soos ‘n ware held na haar sal kom om haar hart te wen. Die kerk is die bruid van Christus wat wag op die koms van die Bruidegom. In Openb 19:11-16 vind ons die uitbeelding van die “Woord van God” wat as oorwinnaar op ‘n wit perd ry. Die Openbaring boek eindig met die verlange van die bruid: “Kom, Here Jesus!” (22:20).
Dat God op die troon sit (Openb 4) en dat Christus as oorwinnaar op sy wit perd na sy bruid sal kom (Openb 19) moet saam met Openbaring 5 gelees word. Openbaring 5 vertel dat dieselfde Christus waarvan die Ou Testament getuig dat Hy die “Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid” is (vers 5) en waarvan Openbaring belowe dat Hy as oorwinnaar na sy bruid kom, in die teenwoordige tyd deur Johannes gesien word as die Lam. Hierdie Lam lewe, maar die tekens van sy offer is steeds duidelik sigbaar.
Die kerk is die bruid wat op die koms van die Bruidegom wag. Die kerk is vandag, in hierdie wêreld, die volgelinge van die Lam wat geslag is en wat lewe.
Wie dit insien, sal besef dat ons roeping in hierdie wêreld veel meer is as om soos ‘n jong meisie oor ons toekomstige Bruidegom te droom (daar is wel ‘n plek vir hierdie “droom”). Die Lam wat die seëls van die boekrol oopmaak en dus die geskiedenis ontsluit, se volgelinge is ín hierdie ontstuimige geskiedenis om juis daar sy getroue volgelinge te wees.
Wat die apostel Petrus in ‘n ander verband gesê het, kan ons help om te verstaan wat dit beteken om volgelinge van die Lam in ‘n stukkende wêreld te wees. “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid” (1 Petrus 4:12-13).
Dit spreek vanself dat die bruid van Christus juis in hierdie tyd van MIV en vigs moet “sien” dat Christus die Lam is wat geslag is, wat lewe en wat ons in hierdie wêreld – spesifiek ook in hierdie tyd van die geskiedenis – plaas om Hom te volg.
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans