Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 15/01/2010 – 16:47
Year C (2009-2010)
Bible Book: John / Johannes
Chapter: 2
Verse: 1 – 11
Wat het die dissipels tydens die bruilof van Jesus waargeneem? Was dit die wonder van die water wat wyn geword het? Waarskynlik nie, want ons lees nie dat hulle dit gesien het nie. Die mense wat getuies van hierdie wonder was, was die kelners vir wie Jesus die opdrag gegee het om die kanne vol water te maak en weer daaruit te skep om na die seremoniemeester te neem (v 7 & 8).
Wat die dissipels gesien het, was dat Jesus die bruidegom van die verleentheid dat daar nie meer wyn was nie, gered het. Sonder enige wyn sou die fees voortydig moes stop. Maar nou was daar genoeg goeie wyn en kon die feesvieringe voortgaan. Volgens gebruik sou dit ’n fees vol blydskap en vrolikheid wees wat ’n aantal dae sou duur. Met Jesus in hulle midde kon die feesgangers voortgaan met die viering van die huwelik en die lewe.
In vers 11 skryf Johannes dat hierdie gebeurtenis Jesus se eerste wonderteken was. En met hierdie teken het Jesus sy heerlikheid laat blyk. Toe Jesus die bruilofsfees herstel het, is sy heerlikheid openbaar. Sy dissipels het iets hiervan besef en in Hom geglo.
“The glory of God is a human being fully alive” het St Irenaeus van Lyons by geleentheid gesê.
In hierdie Evangelie is daar verskeie verwysings na Jesus se heerlikheid. Dis belangrik om te onthou dat hoewel hierdie eerste openbaarmaking van Jesus se heerlikheid tydens die bruilof die viering van die huwelik en die lewe beklemtoon, ander verwysings na die heerlikheid van Jesus die klem op sy dood aan die kruis plaas (vgl 12:23-24 & 13:31).
Ons is bevoorreg om die heerlikheid van Jesus in sy lewe sowel as in sy lyding te ontdek.
Om oor na te dink (of te bespreek): Kan Johannes se beskouing van die heerlikheid van Jesus ons help in hoe ons MIV en vigs hanteer of hoe ons mense wat met MIV leef, ondersteun?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans