Bible Book: Psalms
Chapter: 1
Verse: 1
Verse (to): 6
Psalm 1
Die boek van (150) Psalms kan beskryf word as die te-boekstelling van gelowige Israeliete se verwoording van die wonder van God se verbond, asook hulle worsteling, in die lig van die verbond, met persoonlike- en Israel se teëspoed en ongeluk. Hierdie fassinerende versameling van liedere, klaagliedere, gesange, dankseggings, wysheid, liturgieë, ensovoorts, (wat die meeste lewenservarings asook geloofsituasies verteenwoordig), begin met ‘n Psalm wat oënskynlik eenvoudig en voor die hand liggend is.
Die Psalm probeer nie die lewe se kompleksiteit, probleme en onduidelikhede vereenvoudig nie. Dit roep ons egter op om die belang van die regte keuses raak te sien. Dit is nie genoeg om net die regte bestemming te kies nie – jy moet ook die regte pad waarop jy reis, kies. Egte lewe en ware geloof gaan oor die kies van God se wet (woord) bo slegte vriende (v 1-2) en dit beteken om die pad van regverdiges en nie van die goddeloses nie, te volg (v 6).
Ons kan die Psalm opsom deur die eerste en laaste verse saam te lees: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie” (v 1). “Want die HERE ken die weg van die regverdiges” (v 6 – 1953 vertaling). Die geseënde lewe is die lewe waar ons op dié pad waaroor God daagliks waak, reis. Met ander woorde, om voor die waaksame oë van die liefdevolle God te lewe.
Psalm 1 nooi die leser om op hierdie pad te reis.
Die gelykenis van Psalm 1 beloof dat die persoon wat voor God wandel en hom/haar in sy wet verheug, soos ‘n vrugteboom, wat langs ‘n konstante stroom geplant is, sal wees (v 3). Selfs as die lewe se droë winde en koue winde waai, sal die uiteinde nie soos weggewaaide strooi wees nie (v 4), maar sal daar steeds vrugte vir onderhouding en blare vir heling wees (vgl Openb 22:2).
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan die kerk mense wat goeie keuses gemaak het, help om daagliks volgens hierdie keuses te leef?
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan die kerk mense wat goeie keuses gemaak het, help om daagliks volgens hierdie keuses te leef?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans