Year A (2010-2011)
Bible Book: Psalms
Chapter: 84
Verse: 1
Verse (to): 12

Teks: Psalm 84

Ons kan Psalm 84 lees as ‘n pelgrimslied waarin die pelgrims sing van die wonderlike Sion/Tempel van God waarheen hulle op pad is. Verse 2 – 5 beskryf die Tempel as ‘n plek waar die pelgrims sal tuiskom (selfs mossies is daar tuis!) om verkwik te word. Om by die tempel op Sionsberg te kan tuiskom, is daarom iets goeds om oor te sing en om na te verlang. (Die res van die Psalm bring ook die pelgrims se konkrete behoeftes na water en goeie regering ter sprake.)

Wanneer ons Sondag hierdie Psalm lees, bring dit ons onder andere by die vraag: waar kom ons tuis en waar word ons verkwik?

Dat die gemeente (gemeenskap van die gelowiges) ‘n ruimte behoort te wees waar (moeë lewens-) reisigers tuiskom, veilig kan voel en nuwe krag ontvang, is ‘n Nuwe Testamentiese gedagte (vgl Efes 2:19-20 & Hand 2:42-47). Elke Sondag bely ons ook dat ons aan die gemeenskap van die heiliges glo.

Die teen-vraag van hierdie gedagtelyn is: kan mense wat deur die lewensreis uitgeput is, by ons tuiskom?

Daarom kan oorweeg word om die Erediens te begin met spesiale beklemtoning dat almal wat gekom het (ongeag watter bagasie hulle heimlik saamdra), welkom is! In God se teenwoordigheid mag ons maar tuis kom. Indien dit gebruiklik is om ‘n (vigs)kers aan te steek en voorbidding daarmee saam gedoen word, kan in die gebed melding gemaak word van ons behoefte aan lig en warmte – ‘n plek waar ons veilig en tuis is! – en gebid word dat mense wat swaarkry as gevolg van MIV en vigs die warmte van die liefde van Christus by die kerk en spesifiek by ons gemeente mag ervaar.

 

Author: du Toit N (Ds)
Language: Afrikaans