Bible Book: Psalms
Chapter: 122
Verse: 1
Verse (to): 9
Hoewel die Psalm ingelei word met die oproep aan die pelgrims: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe” (vers 1), word die huis van die Here of die tempel eers weer in die laaste vers genoem. Verse 2 tot 9 handel oor die stad – Jerusalem. Die pelgrims wat gekom het om God in die tempel te aanbid, is bly om in Jerusalem te wees. Dit is ‘n mooi stad (vers 3). Dis die stad waar al die stamme van Israel moet bymekaar kom (vers 4). Dit is die plek waar die regspraak plaasvind (vers 5). Dis die stad wat die huis van die Here huisves (vers 9).
Die tweede deel van die Psalm is ‘n gebed vir die stad. Vers 6 roep die pelgrims op om te bid: “Bid dat Jerusalem vrede mag hê”. Wat hierna volg, is presies dit – bedes vir die vrede van Jerusalem asook seënbedes van vrede vir almal wat hier vergader.
In die eerste deel van die Psalm hoor ons die pelgrims se lof oor Jerusalem (verse 2-4). In die tweede deel hoor ons die pelgrims se gebede vir Jerusalem (verse 6-9). Tussen hierdie twee dele staan vers 5. “Hier word reg gespreek, hier lewer die koning sy uitsprake, die koning uit die geslag van Dawid.”
Vers 5 is nie net numeries die middelste vers van die Psalm nie. Dit bevat die kerngedagte van die Psalm. Die klimaks van die lof oor die skoonheid van die stad is in hierdie vers. Die stad is so mooi omdat geregtigheid hier te vind is! Die gebede vir die stad vloei uit hierdie vers. Daar kan, behoort, sal vrede in hierdie stad wees omdat die “trone van geregtigheid” hier is.
Die Bybel vertel dikwels dat daar geen vrede sonder geregtigheid kan wees nie. Dit blyk ook binne die konteks van die vigspandemie. Dit is nie voldoende om net na mense se mediese behoeftes om te sien nie. Baie mense wat met MIV en vigs leef, worstel met vooroordele, onbillikheid, diskriminasie, stigma en baie ander vorme van ongeregtigheid.
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe behoort ons op te tree as ons vir vrede bid?
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe behoort ons op te tree as ons vir vrede bid?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans