Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 10/09/2010 – 14:35
Year C (2009-2010)
Bible Book: Luke / Lukas
Chapter: 15
Verse: 1 – 10
Lukas 15 moet een van die hoofstukke in die Bybel wees waaroor die meeste gepreek word. Hier is drie wonderlike gelykenisse wat direk met die hart praat. Geen wonder dat hulle so dikwels gebruik word om oor bekering en berou te preek nie.
Die vraag wat in my kop bly maal het, na ek die eerste tien verse weer gelees het, is: Aan wie word al hierdie preke gerig? Word hulle op die “verlorenes”, aan hulle wat steeds “buite die kerk” is, gerig? Meer persoonlik: Aan wie dink ons wanneer ons hierdie gedeelte lees? Dwaal ons gedagtes na hulle wat ons as “verlore” beskou?
Lukas skryf dat Jesus hierdie gelykenisse vertel het in reaksie op die Fariseërs en die skrifgeleerdes wat beswaar gemaak het dat Hy met sondaars eet (v 2, vgl 1953 vertaling: “het baie gemurmureer”).
Moontlik sou die Fariseërs en die skrifgeleerdes nie ‘n probleem gehad het as Jesus bloot vir die tollenaars en sondaars gepreek het nie. Hulle probleem was die feit dat Jesus die tollenaars toegelaat het om naby Hom te kom, dat Hy met hulle sosialiseer het en hulle ernstig geneem het, dat Hy hulle as mense geag het.
“Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis” (v 3).
Hierdie gelykenisse was nie aan die adres van die tollenaars en sondaars gerig nie, maar aan die Fariseërs en die skrifgeleerdes. In werklikheid was hulle ter wille van die mense wat die Fariseërs en die skrifgeleerdes as sondaars veroordeel en verwerp het. Jesus tree in die bres vir hulle. Hy doen voorspraak vir hulle waardigheid. En Hy redeneer dat die feit dat hulle na Hom gekom het, rede vir ‘n fees is, nie vir murmurering nie.
Jesus daag die Fariseërs en skrifgeleerdes uit om bly te wees oor elke persoon wat nader na Hom kom – net soos die engele in die hemel doen (v 7 & 10). Iemand het gesê: “Only those who celebrate God’s grace to others can receive it themselves.”
Om oor na te dink (of te bespreek): Kan jy opreg bly wees oor God se genade teenoor mense met wie jy nie normaalweg sosialiseer nie? Sal dit vir jou moontlik wees om met hulle fees te vier?
Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans