Wat sal gebeur as ’n mens die twee lyne van die Christelike kruis van mekaar losmaak en apart gebruik? Wat is die betekenis van twee losstaande lyne of balke?
As ons by wyse van spreke die simbool van die kruis gebruik om aan die een kant ons verhouding met God (die vertikale lyn) en aan die ander kant ons verhouding met ons naaste (die horisontale lyn) te verteenwoordig, waarom maak ons dit so maklik van mekaar los?
Die neiging, om ons verhouding met God los te maak van ons verhouding met ons naaste, kom van ver af. Jesaja 58 is ’n goeie voorbeeld van hoe die mense van Israel gedink het hulle kon God aanbid en terselfdertyd onreg beoefen – en dan het hulle nog gedink dat God tevrede sou wees met hoe ernstige hulle Hom aanbid.
Die profeet verklaar onomwonde dat hulle “aanbidding” tevergeefs was. In werklikheid was hulle “aanbidding van God”, terwyl hulle hulle verantwoordelikheid teenoor mense in nood en mekaar verontagsaam het, slegs ’n vertoning. Hulle het ’n openbare skouspel van hulle vas gemaak. Dit het nie werklik om hulle verhouding met God gegaan nie.
Die toeweiding wat God van sy mense verwag, sluit die beoefening van geregtigheid in hulle sosiale verhoudinge in. Ware aanbidding kan nie die nood van ander verontagsaam nie. “People, individually and corporately, cannot have a full relationship with God without a just relationship with each other” (Amy Oden).
Terselfdertyd herinner Jesaja 58 ons dat die beoefening van geregtigheid in ons sosiale verhouding nie ons aanbidding van God vervang nie. Die hoofstuk sluit af met ’n ernstige oproep om God se Sabbat te onderhou.
Om oor na te dink (of te bespreek): Waarom is dit so moeilik om ons verhouding met God en ons verhouding met ons naaste bymekaar te hou? Wat is die gevolge hiervan in die konteks van die MIV pandemie?