Psalm 27 begin met ‘n wonderlike gebed en belydenis: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?” Maar – hoe kan ‘n mens dit bid wanneer daar slegte dinge met jou gebeur het?
Die Psalm eindig met goeie raad: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE! (1953 vertaling). Maar – hoe sê ‘n mens dit vir iemand wat ernstige terugslae beleef het?
Hou Psalm 27 rekening met die moeilike realiteit waarin ons daagliks leef, of is dit ‘n voorbeeld van skyn-geloof en oppervlakkige advies?
Met hierdie vrae in gedagte het ek die Psalm, veral verse 7 tot 12, weer noukeurig gelees. Hier roep die psalmdigter tot God vanuit ‘n situasie van kwesbaarheid. “Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig en verhoor my gebed”, is die kreet in vers 7. In vers 9 is dit selfs dringender: “Moet my tog nie verstoot en verlaat nie, want U alleen is die God wat my red.” In hierdie verse sien ons dat die psalmdigter ons lewenservaringe deel. Ons vind ons twyfel, vrese en verlange in hierdie gebede. Die posisie van vertroue in die eerste verse en die optimistiese raad in die laaste vers is nie verwyder van ons daaglikse lewe wat gevul is met probleme nie.
Wat ons ook in verse 7 – 12 vind, is die psalmdigter se fokus op God. Hier is ‘n eerlike verlange na God (nie net na God se gawes nie). Die psalmdigter is besorg oor God self – God se aangesig (vers 8 – 1953 vertaling) en God se wil (vers 11).
Wanneer ons iets van die eerlike, opregte fokus op God te midde van moeilike omstandighede begryp, kan ons die psalmdigter se getuienis van vertroue in die eerste verse en sy optimistiese raad in die laaste vers begin verstaan.
Die rede vir die psalmdigter se advies aan ons om op die Here te wag, is eintlik vanselfsprekend: hy het presies dit gedoen en weet dat dit goeie raad is.
Om oor na te dink (of te bespreek): Watter dinge verhinder jou om op die Here te wag?