Submitted by Visitor (not verified) on Fri, 13/08/2010 – 14:23
Year C (2009-2010)
Bible Book: Isaiah / Jesaja
Chapter: 5
Verse: 1 – 7

Ek ken haar nie; sy is nie ‘n gemeentelid nie: vroeg 50’s, geskei, ‘n ma. Sy is ‘n toegewyde christen, vir baie jare lank betrokke by jeugbediening. ‘n Paar jaar gelede het sy ‘n mastektomie gehad a.g.v borskanker. Iemand wat beide soet en suur van die lewe ken! Sy praat met groot waardering oor die liefde en die ondersteuning wat sy in daardie jare van haar gemeente ontvang het. Maar waarom is sy nie meer betrokke by ‘n gemeente nie, wonder ek? Dit neem nie lank om by die werklike rede van haar besoek te kom nie: na ‘n huwelik van meer as 20 jaar, kon sy net nie meer “die leuen leef nie”, vertel sy. Sy moes deursigtig raak: sy is lesbies! Na soveel mislukte selfmoordpogings die afgelope dekade kan sy net nie meer so aangaan nie.

Nee, haar seksuele oriëntasie is nie die kern van hierdie Jesajagedeelte nie. Maar daar is een sinnetjie uit die gesprek wat wel van toepassing is: “My sielkundige het my aanbeveel om weg te bly van die kerk; sy dink ek is nog nie emosioneel sterk genoeg om betrokke te raak nie”.

Bloot ‘n oningeligte sielkundige se standpunt? Dalk nie. In Philip Yancey se “What’s so amazing about grace” skryf hy die skokkende woorde dat die meeste mense se opinie oor die kerk is dat dit ‘n plek is waar morele reëls meer geld as genade (p. 14).

Wat sou die verband met Jesaja 5:1-7 wees? Ons ken almal die allegorie: God wat met moeite ‘n perfekte omgewing voorberei waarbinne ‘n wingerd (Israel) vrug sou kon dra. “Wat kon die eienaar nóg doen om soet vrugte te verseker?” “Niks”, is die antwoord. Die een duidelike realiteit is dat geen van die voorbereidings noodwendig die gewensde resultate sou verseker nie. God gryp nie in by “vryheid van keuse” nie!

Wat gebeur wanneer die “vrye wil” dan toegelaat word om self te besluit? Vers 7 is duidelik – hier is woordspel in die Hebreeuse taal wat ongelukkig nie in Afrikaanse vertaal kan word nie: in plaas van die mishpat (regverdigheid), oes God mispach (onreg, of bloedverlies). In plaas van die verwagte tsedaqah (geregtigheid), is dit die tse’aqah (hulpkrete) wat God se ore bereik.

God het al God se energie in God se Volk belê, maar die “oes” is soveel keer stories (…ja, natuurlik is daar ander…) van eenkant-gestote mense wie se ervaring van die kerk die teenoorgestelde is as wat van die geloofsgemeenskap verwag word.

Ek is bewus daarvan dat hierdie ‘n eensydige perspektief is, maar dalk moet ons hieroor nadink. Dalk sal die HIV+ christen tog volgende jaar, nadat ek hom al soveel keer gevra het, wel “sy storie” deel by ‘n MIV- en vigs-diens. Dalk sal hy dan nie meer te bang wees om verwerp te word nie…

Om oor na te dink (of te bespreek): Waar sien jy om jou die oes van “reg en geregtigheid”? Waar sien jy die oes van “onreg en hulpkrete”? Wat is die uitkoms wanneer hierdie twee teenpole mekaar se weë kruis?

Author: R Bezuidenhout (Dr)
Language: Afrikaans