Submitted by Visitor (not verified) on Mon, 07/12/2009 – 11:57
Bible Book: Amos
Chapter: 8
Verse: 1 – 14
Verse (to):
Teks: Amos 8:1-14

Vir “Nuwe Testamentiese gelowiges” mag Amos 8:7-14, wat God se toorn verwoord, vreemd klink. Ons mag geneig wees om hierdie verse van minder belang te ag “want ons ken God as die God van genade en vergifnis”. Maar dit sal ‘n onverskillige lees van die Bybel wees. Hierdie is duidelik ‘n belangrike Skrifgedeelte.

Waarom is God kwaad?

Ons vind die antwoord in vers 4: “Luister hierna, julle wat arm mense vertrap, julle wat die mense in nood in die land wil uitroei.” Wat vir ons in verse 7-12 na ‘n “negatiewe boodskap” oor God se toorn mag lyk, korrespondeer in der waarheid met God se deernis vir arm mense en mense in nood, die kwesbares, in verse 4-6. (Die 1953 Vertaling praat van “behoeftiges” en “ootmoediges”.)

Dit herinner my aan wat my broer my van fotografie geleer het toe ek ‘n kind was: Jy ontwikkel eers die film om ‘n negatief te kry. Van hierdie negatief druk jy dan die foto of positief. In daarde dae kon jy nie ‘n foto of “positief” sonder ‘n negatief kry nie. Op ‘n soortgelyke wyse verstaan ons meer van God se deernis vir armes en mense in nood wanneer ons aandag gee aan sy toorn wanneer hierdie mense vertrap word.

Die man wat God van agter sy kudde skape geroep het om teenoor Israel te profeteer (vgl Amos 7:14,15) verstaan dit en daarom is hy nie bang om teen die baie sosiale euwels van Israel te preek nie. Die leiers in Israel is “ryp vir die oordeel” (verse 1-2) omdat hulle mense in nood vertrap (vers 4), die Sabbat geringskat (vers 5a), korrupte besigheidspraktyke toepas (vers 5b) en gevoelloos is vir die lot van die armes (vers 6).

Ek lees onlangs hoe ‘n prominente kerkleier pleit dat ons kwaad behoort te word wanneer enigeen as gevolg van veronregting ly en nie net wanneer “ons eie mense” seerkry nie. Op hierdie wyse sal ons wys of ons werklik besorg is oor regverdigheid en kwesbare mense.

In ons houdings en dade teenoor armes en mense in nood, die kwesbares, en in wat ons ter wille van hulle doen, weerspieël ons die beeld van Jesus – of nie.

Om oor na te dink (of te bespreek): Op watter manier kan jy prakties toon dat jy deernis het vir kwesbare mense?

Author: N du Toit (Ds)
Language: Afrikaans