Bible Book: Revelation / Openbaring
Chapter: 1
Verse: 4
Verse (to): 8
Teks: Openbaring 1:4-8
Die boek Openbaring is ongeveer 95 jaar na die geboorte van Christus geskryf. Op hierdie stadium het die toekoms donker gelyk. Baie mense is aan die hardhandige optrede van die Romeinse regering van die dag blootgestel. Vir die Christene was die situasie nog erger. Hulle liefde vir God het dikwels aanleiding gegee tot lyding. Te midde van hierdie lyding het hulle dikwels gevra: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” (Opb 6:10).
Dit vorm die agtergrond van die boek Openbaring. In hierdie omstandighede word aan die sewe gemeentes van Asië (sewe is die volle getal en daarom dui dit op die hele kerk) genade en vrede belowe (1:4).
“Genade” is ‘n tipiese Griekse vorm van groet en “vrede” is ‘n tipiese Joodse groet (shalom) van daardie tyd. “Shalom” beteken meer as wat ons gewoonlik met vrede bedoel. Shalom is ‘n lewenssituasie van volle lewensgeluk en tevredenheid. Hierdie wens vir volle lewensgeluk vir hulle wat onder die onderdrukking van die Romeinse owerheid gebuk gaan, kan inderdaad vervul word, want dit word gegee deur “Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde” (1:4-5). God is in beheer – al lyk dit op die oog af nie so nie.
Te midde van MIV en vigs het ek verskeie kere, terwyl ek by ‘n sterwensbed gestaan het, gevoel om tot God te roep: “hoe lank, Here, voor U ‘n einde hieraan bring?” Maar ek het besef dat dit nooit God se bedoeling is dat mense op hierdie wyse moet ly nie. God se wens vir ons is om shalom te beleef. Ek kan nie keer dat mense sterf nie. Ek kan selfs baie min doen om mense se lyding te verlig. Maar ek kan deur persoonlike sorg en omgee, deur my dáárwees vir ander, help dat hulle wat ly iets van God se shalom mag ervaar.
Om oor na te dink (of te bespreek): As ek een of ander erstige siekte wat my lewe mag bedreig (bv kanker), onder lede het, wat kan andere doen sodat ek iets van God se shalom mag ervaar?
Sou God verwag dat ons dieselfde doen vir iemand wat met MIV of vigs leef?
Author: A van Wyngaard (Dr)
Language: Afrikaans