Teks: Markus 12:38-44 (9/11/03)
In Markus 12:38 – 44 lees ons van twee geleenthede waar Jesus oor weduwees gepraat het.
* In vers 40 gebruik Hy die weduwees as voorbeelde van arm of magtelose mense wat uitgelewer is aan die magsmisbruik van die skrifgeleerdes met hulle swierige klere. Jesus veroordeel hulle optrede teenoor die arm weduwees.
* In vers 43 plaas Jesus ‘n weduwee in die sentrum van sy dissipelskool. Die dissipels moet by haar kom leer. Jesus plaas nie net die arm weduwee (wat deur die skrifgeleerdes veronreg is) voor sy dissipels as voorbeeld nie – Hy herstel haar menswaardigheid. Sy is nie iemand om op neer te kyk nie. Die dissipels moet na haar opkyk soos wat dit God se mense betaam om na senior persone op te kyk.
In die tyd wat Markus skryf, was die weduwees dié voorbeeld van mense wat in armoede verval het. As gevolg van kulturele en sosio-ekonomiese omstandighede kon hulle bitter min aan hulle eie lot doen. As die familiestruktuur hulle nie opgevang het nie, was hulle van gunste en gawes afhanklik. Daarom kon dit so maklik gebeur dat hulle misken, veronreg en selfs verder verarm is.
In ons tyd en land het MIV en vigs tot gevolg dat weduwees en wese dikwels nie deur familstrukture en die staat se welsyns-dienste opgevang word nie – daar is net te veel van hulle! Vir hulle word dit ‘n daaglikse oorlewingstryd.
Die stigma wat ons gemeenskap aan MIV en vigs gee, het verder tot gevolg dat mense wat siek word en wat bekend word as vigslyers so maklik deur ander misken en verwerp word. Vir baie is hierdie verwerping selfs erger as die terminale siekte self.
Tog is dit juis hulle by wie ons dikwels kan leer.
Ons kan begin deur hulle menswaardigheid te ontdek.