Submitted by Visitor (not verified) on Tue, 20/04/2010 – 08:52
Year C (2009-2010)
Bible Book: Acts / Handelinge
Chapter: 9
Verse: 1 – 16
Wie gee om vir die vyand?
Ons ken hierdie bekende verhaal as ‘n verhaal van bekering en van ‘n veranderde lewe. Wat my hierdie keer opgeval het, was wie se lewe verander het. Saulus was ‘n prominente lid van die “vyand”. Ek het begin wonder: “Wie is ons vyande? Wie is dit wat vrees en leuens versprei? Wie is dit wat dood bring deur hulle leuens en spot? Wie loop rond en versprei vrees en dood vir hulle wat met die virus moet saamleef, of wie se lewe daardeur geaffekteer word?”
Toe ek die teks weer deurlees, het ek nie meer vir Saulus raakgesien nie, maar vir Jesus wat uitreik na dié gevaarlike vervolger, die Fariseër. Inderdaad, wie gee om vir die vyand? Daar is hierdie mense wat rondloop met spot in hulle oë, wat mense met MIV en vigs verwerp, wat negatiewe houdings teenoor hulle versprei (stigma skep). Wie noem hulle die vyand? Ek doen dit. Ek is bang vir hulle, ek ignoreer hulle. Ek beskou hulle as onbekeerbaar. Wie glo dat ‘n individu vol haat en vooroordeel, sonder empatie en met die sensitiwiteit van ‘n klip kan verander?
Clint Eastwood se film “Unforgiven” vra hierdie vraag. Kan ‘n mens van geweld verander? William Munny is ‘n “afgetrede” moordenaar. Hy is ook ‘n pa wat met sy twee kinders op ‘n plaas woon. Op ‘n dag ontvang hy ‘n besoek van “The Kid”. “The Kid” nooi hom om saam te gaan op ‘n “bounty hunt”. Eers weier Munny, maar dan wonder hy of hy nog kan skiet soos in die ou dae. En as hy sy rewolwers gaan haal, weet ons wat kom. Sy verlede haal hom in en hy los sy kinders om agter “The Kid” aan te gaan.
Hy kon nie verander nie. “The Kid” lei Munny na sy dood.
Saulus ondersteun die gewelddadige dood van Stefanus. Christus breek die siklus van geweld en haat.
Hy het sy vyand lief en Saulus verander. Vyande kan verander want Christus het hulle lief!
Daar is in alle gemeenskappe hierdie vyandigheid en negatiewe houdings. Daar is mense, die “vyand”, wat rondloop met vals inligting, wat valse hoop en leuens oor MIV en vigs versprei. Hulle skep negatiewe houdings teenoor mense wat met MIV en vigs leef, en teenoor die wat daardeur geaffekteer word.
Ons opponeer hulle, maar wie is vir hulle lief?
Wie het hulle lief soos wat Jesus vir Saulus lief gehad het?
Saulus en sy mense het Jesus genoeg gehaat om Hom dood te maak. Jesus het hom lief genoeg gehad om te sterf. Kan ons ons vyande genoeg liefhê sodat hulle ook kan verander?
Die geweldenaar vra: “Wie is u, meneer?”, en die antwoord kom: “Jesus vir wie jy vervolg!” Inderdaad, wie is ons?
Om oor na te dink (of te bespreek): Hoe kan ons dit vermy om, in ons pogings om die stigma van MIV en vigs te beveg, nuwe vyande te maak?
Author: J Pieters (Ds)
Language: Afrikaans